|

Rassekwotas in netbal kom neer op ‘kindermishandeling’

Die burgerregte-waghond AfriForum het vandag aangekondig dat die organisasie namens 13 Gautengse netbalspelers gaan optree weens uitsluiting uit provinsiale spanne op grond van hul ras.

Die organisasie het op ’n mediakonferensie in Centurion onthul dat hul die keurders vir die Gautengse o.12- tot o.18-netbalskolespanne se keurings- en puntelyste bekom het, wat bewys dat 56 wit meisies, wat volgens die keurders se beoordeling op meriete vir die spanne gekies moes word, weens hul ras uit die spanne wegggelaat is.

AfriForum het reeds namens die benadeelde meisies se ouers amptelike klagtes by Netbal Suid-Afrika (NSA), Suid-Afrikaanse Skolenetbal (SASN) en Gauteng Skolenetbal (GSN) ingedien.

In skrywes aan die liggame eis AfriForum dat rassekwotas geheel en al afgeskaf moet word en dat die benadeelde meisies skriftelik erkenning moet kry dat hul goed genoeg was om die lys te haal en op meriete gekies moes word. In die derde en vierde plek vra AfriForum dat die liggame die organisasie moet voorsien van die kriteria wat gebruik word waarvolgens spelers gekies word sowel as wat die ontwikkelingsplan vir netbal behels.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê: “Hoe verduidelik ’n mens vir ’n jong meisie dat sy goed genoeg is om ’n span te kan haal, maar dat haar ras (wat sy nie self gekies het nie) bepaal dat sy nie vir die span gekies mag word nie. Hierdie tipe diskriminasie kom neer op kindermishandeling vir politieke gewin.”

Kriel meen die dilemma is dat mense wat by die keuringsproses betrokke is, nie kinders se talent raaksien nie, maar eerder polities gedienstig optree om hul posisies te behou.

“Ons is bewus van die ongelykheid wat daar tans in skolesport is, veral by wanfunksionele en townshipskole, maar dít gaan slegs deur ontwikkeling en opvoeding reggestel word, nie deur die implementering van rassekwotas nie. Ons moet ongelykheid in skole uitskakel.”

Volgens Kriel word die 42 swart meisies wat die Gautengse spanne op meriete gehaal het óók benadeel. “Dit is tragies dat hierdie beduidende getal goeie swart spelers nou ook benadeel word deurdat die rassekwotastelsel op ’n onregverdige wyse die kwota-etiket om hul nekke hang. Dit toon ’n disrespek vir hul menswaardigheid.”

Hy het bygevoeg dat die rassesamestelling van ‘n sportspan nie saak maak nie, solank die span op meriete verkies word.

Indien daar nie binne 14 dae aan AfriForum se eise voldoen word nie, sal die organisasie ’n amptelike klag van rassediskriminasie teen NSA by die Internasionale Netbalfederasie (INF) indien. Volgens Kriel sal AfriForum hom selfs tot die internasionale Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) wend, indien nodig.

“NSA se optrede is teenstrydig met die regulasies van die INF, die Internasionale Olimpiese Komitee én die Statebondspelefederasie. Hierdie liggame verbied uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie.”

Volgens Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, is NSA se diskriminasie teen die wit meisies een van talle voorbeelde van hoe jongmense, wat graag ’n positiewe bydrae tot hul provinsies en land wil maak, op groot skaal vervreem word. “Ons sal nie toelaat dat hierdie meisies weens hul velkleur soos tweedeklas burgers in hul geboorteland behandel word nie.”

Deur die organisasie se volgehoue druk vroeër die jaar, het die Suid-Afrikaanse Skoleatletiek (SASA) hul rassekwotabeleid, wat strenger transformasieteikens in skoleatletiek vereis het, onttrek.

Volgens AfriForum kan die publiek help om te wys dat daar wydverspreide teenkanting teen die kwotastelsel is deur hul name by klagtes teen NSA te voeg wat by die internasionale liggame ingedien gaan word. Die publiek kan hul name by https://afriforum.co.za/stopkwotas-may-2019/ byvoeg of dit SMS na 32687te SMS (R1).

 

Soortgelyke plasings