|

Reëlings vir AfriForum-protesaksie teen plaasmoorde in Senekal  

Die burgerregteorganisasie AfriForum se lede en ondersteuners gaan op 16 Oktober om 10:00 by die gronde langs die Kommando N5-restaurant in Ad Keetstraat in Senekal byeenkom om ’n vreedsame protesaksie teen plaasterreur te hou. Dié perseel is deur die SAPD aan AfriForum toegeken nadat die organisasie ’n perseel versoek het waar hulle self beheer kan neem om te verseker dat aktiwiteite daar georden en binne die raamwerk van die wet kan geskied.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die besluit geneem om die terrein langs die Kommando N5-restaurant te betrek om te verseker dat die vreedsame stem van die meerderheid – wat op ’n geordende wyse hul woede en misnoeë oor plaasterreur wil toon – nie stilgemaak word deur ’n klein groep opstokers en die EFF se uitlokkende optrede nie. AfriForum en geweldsgeteisterde gemeenskappe het die volste reg om woedend te wees oor moorde soos die op die jong Brendin Horner. AfriForum glo egter dat dit belangrik is dat die billike saak om optrede teen plaasmoorde te eis nie besoedel word deur diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie.

Kriel wys ook daarop dat AfriForum se lede na Senekal gaan om protes teen plaasmoorde aan te teken en beslis nié om in konfrontasie met randfigure soos die EFF te tree nie.

“AfriForum het by talle geleenthede suksesvolle en vreedsame protesaksies teen plaasmoorde gehou, wat daarin geslaag het om die terreur op plase op die agendas van die plaaslike en internasionale gemeenskap te plaas. Ons kan nie nou ophou om dit te doen net omdat daar radikales soos die EFF is wat die geleentheid wil misbruik om ’n optog ten gunste van plaasmoorde te hou nie. Ons kan ook nie ophou protes aanteken omdat moeilikheidmakers in protesaksies geplant word om die geldige verset teen plaasmoorde in onguns te bring nie. AfriForum sal dus voortgaan en maatreëls tref om te sorg dat diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie deel van AfriForum se vreedsame aksie is nie,” sê Kriel.

Volgens Kriel tel Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en dr. Theo de Jager, president van die World Farmers’ Organisation en voorsitter van die familieboerorganisasie Saai, onder diegene wat by AfriForum se byeenkoms gaan praat.

Kriel is bekommerd dat die padblokkades wat die SAPD op alle ingange na Senekal wil hou tot groot vertragings kan lei. Hy doen ’n beroep op AfriForum-ondersteuners om bykomende tyd by hul reisplanne in te sluit.

Daar is ook twee ander persele toegeken: een waar die EFF byeenkom en een waar ander organisasies byeenkom wat hulle nie tot AfriForum se maatreëls wil verbind nie. AfriForum kan nie aan ander voorskryf hoe hulle moet optree nie, maar kan self bepaal hoe sake op sy eie terrein verloop.

Soortgelyke plasings