| | |

REGERING SE PLANNE OM ENTSTOF MET VERHOOGDE BELASTING TE BETAAL ONAANVAARBAAR

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan sowel pres. Cyril Ramaphosa as die nasionale tesourie gerig om sy misnoeë te kenne te gee met die regering se planne om belasting te verhoog om die kostes van COVID-19-entstowwe te dek.

Die tesourie oorweeg dit om belasting te verhoog of om ’n nuwe belasting in te stel om vir die COVID-19-entstof te betaal. Die regering se planne om die entstof te befonds, sal na verwagting op 24 Februarie tydens die minister van Finansies se begrotingsrede aangekondig word. Dit is kommerwekkend omdat Suid-Afrika se belastingbasis reeds oorbelas word en die afgelope jare boonop aansienlik gekrimp het.

Volgens ’n studie deur die Universiteit van Kaapstad se Liberty Instituut het belastingbetalers van die middel- en hoër inkomstegroepe sedert 2017 van 6,1 miljoen tot 2,7 miljoen gekrimp. Dit is ’n vermindering van meer as 55%. Die aantal uiters arm mense, wat minder as die minimum loon verdien, het egter met 6,6 miljoen mense toegeneem – sowat 54%.

Boonop het sowat 600 000 mense reeds hul werk verloor weens die drakoniese inperkings wat in die land geld om die verspreiding van COVID-19 te bekamp.

“Terwyl die ANC-regering dit herhaaldelik duidelik gemaak het dat hy weens korrupsie, wanbesteding en diefstal nie met belastingbetalers se geld vertrou kan word nie, het dit nou die vermetelheid om meer geld van belastingbetalers te wil eis. Dit terwyl ons steeds geen vervolgings gesien het vir staatskaping en COVID-19-verwante korrupsie nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Broodryk voeg by dat die spesiale ondersoekeenheid tans onreëlmatige staatstransaksies ter waarde van meer as R10 miljard met betrekking tot COVID-19-verwante aankope ondersoek. Dit alleen is gelykstaande aan sowat die helfte van die bedrag wat die regering glo vir sy inentingsveldtog benodig.

Dit het nou ook aan die lig gekom dat die regering dubbeld die prys vir entstowwe gaan moet opdok as wat die VSA en Europese lande betaal omdat dit gesloer het met pogings om die entstof te bekom.

Soortgelyke plasings