Regering weerhou inligting dat riool ’n nasionale krisis is – AfriForum

Die land se plaaslike regerings word oorval met rioolklagtes omdat riool op enige gegewe tyd iewers in die land vrylik lek en gevolglik ’n wesenlike gesondheidsrisiko vir Suid-Afrikaners skep en ernstige besoedeling veroorsaak. AfriForum-takke landwyd ontvang byna daagliks klagtes in dié verband van moedelose gemeenskapslede.Die departement van omgewingsake het vroeër vanjaar die 2014-groendruppelverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee bekend gemaak. Die toestand van Suid-Afrika se rioolaanlegte en infrastruktuur word in dié verslag uiteengesit. Die verslag is egter nog nie aan die publiek bekendgemaak nie.

Volgens Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, is dit veilig om af te lei dat die 2014-verslag aandui dat die land se rioolsituasie nie goed daar uitsien nie. Dit kan ongetwyfeld nie vir die parlementêre portefeuljekomitee aanvaarbaar wees om ’n 2014-verslag eers in 2017 te ontvang nie. Boonop is dit slégs die komitee wat ’n verslag van enige aard ontvang het – die res van Suid-Afrika weet nóg wat die toestand van ons rioolaanlegte, nóg wat die mate van besoedeling is wat hierdeur veroorsaak word.
Die departement moes in die 2015/2016- finansiële jaar R827 miljoen aan tesourie teruggee omdat dié geld nie bestee is nie. Dit bring die onbestede bedrag vir die laaste paar jaar op meer as R2 miljard te staan. Dít terwyl ’n geskatte 4 200 megaliter rou riool daagliks in ons rivierstelsels opeindig omdat 82% van die land se rioolaanlegte nie aan toepaslike wetgewing en standaarde voldoen nie. AfriForum het dié inligting by die onlangse simposium oor riool- en afvalwaterbehandeling by Emperors Palace bekend gemaak.

“Om dié rede het AfriForum besluit om jaarliks as deel van ons waghondfunksie water- (bloudruppel-) en riooltoetse (groendruppeltoetse) te laat doen en ’n eie verslag op grond van die uitslae saam te stel. Toetse word op elke dorp gedoen waar AfriForum ’n tak het sodat gemeenskappe self deur middel van geloofwaardige en aanvaarde metodes oor die toestand en gehalte van hul dorp se drinkwater ingelig kan bly, asook die mate van besoedeling wat teenwoordig is al dan nie,” sê Pawson.

Hy benadruk dat AfriForum tersefdertyd druk op die departement sal plaas om hulle verslag ook aan die publiek bekend te maak.

Soortgelyke plasings