|

Regter sê later oor hofsaak tussen AfriForum en parlement oor grondonteieningsproses

Deur Alet Rademeyer

Regter Hayley Slingers het vandag uitspraak voorbehou in die hofsaak waarin die parlement AfriForum se hofaansoek teenstaan oor die parlement se aanvaarding van die verslag van die gesamentlike grondwetlike komitee vir die hersiening van artikel 25 van die Grondwet.

AfriForum is sedert 2018 in ’n regstryd gewikkel om die grondwetlike hersieningskomitee se verslag, waarin aanbeveel is dat die Grondwet gewysig moet word, ongeldig te verklaar. Die burgerregte-waghond is van mening dat daar verskeie prosedurele gebreke in die aanloop tot die aanvaarding van dié verslag was. AfriForum se aanvanklike aansoek om ’n dringende interdik te kry om te verhoed dat die verslag aanvaar word, is van die hand gewys.

Die saak is vandag aanlyn in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor. Die parlement staan die saak teen en voer aan dat die regsremedie wat AfriForum soek, nou irrelevant is aangesien daar sedert die hofaansoek verskeie verwikkelinge rondom die wysiging van artikel 25 was.

Die grondwetlike hersieningskomitee het in sy finale verslag in 2018 voorgestel dat die Grondwet verander moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die parlement het die verslag aanvaar en daarna ’n ad hoc-komitee tot stand gebring wat wetwysigings moes inisieer rondom die wysiging van artikel 25 van die Grondwet. Dié komitee het reeds ’n voorgestelde wetwysigingsontwerp uitgebring en die meeste provinsies het reeds insette in openbare verhore gelewer. Nadat COVID-19 Suid-Afrika in Maart getref het, is besluit om die werk van die komitee tot einde Desember vanjaar te verleng.

Adv. E.C. Labuschagne (SC), het vandag namens AfriForum aangevoer dat die kruks van die saak steeds is dat daar uitsluiting met die aanvanklike openbare deelnameproses was en dat die diensverskaffer wat die gesamentlike hersieningskomitee aangestel om die proses te hanteer onbehoorlik en onregmatig opgetree het.

AfriForum meen die diensverskaffer se besluit om meer as 180 000 voorleggings nie as deel van die openbare deelnameproses in ag te neem nie, was irrasioneel. Dié besluit het tot gevolg gehad dat 29% van voorleggings nie in ag geneem is nie wat daarop neerkom dat mense wat aan die proses deelgeneem het se grondwetlike regte misken is. Desnieteenstaande het die gesamentlike hersieningskomitee die verslag met gebreke van die diensverskaffer aanvaar.

Labuschagne het verder aangevoer dat die gesamentlike hersieningskomitee deur die aanwysing van ’n diensverskaffer en die aanvaarding van die verskaffer se verslag nie sy eie verantwoordelikheid nagekom het nie. Dié komitee moes oor die geldigheid van die voorleggings beslis en dit nie aan die verskaffer oorgelaat het nie. Dit was dus ook nie geldig dat die gesamentlike hersieningskomitee die verslag aanvaar het nie.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi (SC), namens die parlement, het gesê indien daar enige tekortkominge in die verslag was, is dit nou irrelevant en dat die ad hoc-komitee ook nie enigsins gebind is om dit in ag te neem nie.

Hy is ook van mening dat ’n uitspraak nou geen impak sal hê nie aangesien die proses om artikel 25 te wysig reeds verder gevorder het as die feitlike agtergrond wat AfriForum in sy aansoek noem.

Ngcukaitobi het verder aangevoer dat die diensverskaffer wat aangestel is, as ’n “agent” van die parlement opgetree het en dat die parlement die verslag dus as sy eie kon aanvaar.

Slingers het uitspraak voorbehou en aangedui dat die hofbeslissing per e-pos aan die partye gekommunikeer sal word.

Soortgelyke plasings