|

Regters gee môre uitspraak in AfriForum se saak in Wes-Kaapse hooggeregshof

’n Volbank regters sal na verwagting môre uitspraak in AfriForum se hofaansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof gee.

AfriForum het ’n dringende aansoek in dié hooggeregshof gebring om te keer dat die parlement se Grondwet-hersieningskomitee se verslag, om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, deurgestoomroller en deur die parlement goedgekeur word.

AfriForum se regspan wou keer dat die verslag, wat vol gebreke en ongeldig is, volgende week in die parlement gedebatteer word. Adv. Etienne Labuschagne SC het namens AfriForum opgetree.

Die hof sal na verwagting net uitspraak gee oor die dringendheid van die organisasie se aansoek en nie oor die hersieningsaansoek nie.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het vroeër gesê die doel van die aansoek was om die proses te keer totdat die howe uitspraak oor dié belangrike kwessie gegee het. AfriForum het nie vir ’n swygbevel teen die komitee gevra nie en wou ook nie keer dat die parlement met sy werksaamhede en wetgewende bevoegdhede voortgaan nie.

AfriForum was egter van mening dat die parlement nie ’n wesenlike besluit kan neem wat die toekoms van die land en die Grondwet gaan raak aan die hand van ’n komiteeverslag wat absoluut gebrekkig is nie. Die burgerregte-organisasie meen die komiteeverslag is ongeldig omdat duisende geskrewe voorleggings wat gemaak is nie oorweeg is nie. Daarbenewens het die komitee ook van buite-konsultante gebruik gemaak om die voorleggings te oorweeg. In dié proses is sowat 180 000 voorleggings uitgesluit omdat dit as “duplikate” bestempel is.

AfriForum meen die komitee het ook onwettig opgetree deur die oorweging van die voorleggings te delegeer.

Tydens AfriForum se argumente het regter Vincent Saldanha vrae gehad oor waarom AfriForum nie in sy voorlegging aan die parlement openbaar het hoeveel duplikaat-voorleggings daar was nie.

Hy het aangedui AfriForum se aansoek is voortydig en dat dit nie daartoe sal lei dat die verslag nie volgende week gedebatteer word nie. Hy het ook gesê die aansoek berus op artikel 59 van die Grondwet en dié aansoek moet in die Konstitusionele Hof gebring word.

Labuschagne het nie saamgestem nie en gesê die aansoek gaan nie daaroor of die parlement sy grondwetlike pligte nakom nie. Die vraag is of die komitee ’n besluit op grond van ’n derde party verslag (die buite-konsultante) kan maak en of die uitsluiting van voorleggings weens duplikate wettig is.

Die komitee het op 15 November in hul finale verslag aanbeveel dat art. 25 van die Grondwet gewysig moet word om die onteiening van grond sonder vergoeding duidelik in die Grondwet uit te stippel. Die verslag sal na verwagting volgende week verder gedebatteer word voordat dit na ’n verdere komitee verwys word wat wetgewing sal moet opstel oor die wyse waarop die Grondwet gewysig moet word al dan nie.

AfriForum is nie die enigste organisasie wat alles in die stryd werp om te keer dat die Grondwet gewysig word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak nie.

Adv. Thembeka Ngcukaitobi het vandag namens die parlement argumenteer dat daar geen dringendheid vir AfriForum se aansoek is nie. Hy het gesê partye sal tydens volgende week se debat hul bekommernisse kan lug wat beteken dat AfriForum se aansoek prematuur is. Hy het ook aangevoer niks wat in volgende week se debat kan gebeur, is permanent nie.

Wat die voorleggings betref, het hy geargumenteer dat een voorlegging wat deur 50 000 mense onderteken is, dit nie 50 000 voorleggings maak nie.

Ngcukaitobi het in die hof toegegee dat die meerderheid van die voorleggings, ongeag die duplikasies, teen onteiening sonder vergoeding en die wysiging van die Grondwet is.

Opposisiepartye wat ook vroeër teen die komitee se verslag gestem het, is die DA, IVP, ACDP, VF Plus en Cope.

Landbou-organisasies soos Agri SA en TLU SA het ook beswaar gemaak en meen die aanvaarding van die komitee se verslag is lynreg in stryd met die doelwitte vir die beskerming van eiendom, ekonomiese stabiliteit, werkskepping, beleggersvertroue en volhoubare transformasie van die landbousektor.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het ook sy prokureurs opdrag gegee om voorbereiding te tref om die prosedureel foutiewe werk van die komitee onder regterlike hersiening te neem. Die IRV se beswaar is ook teen die feit dat die komitee sy aanbeveling vir die wysiging van die Grondwet gemaak het sonder dat 99,9% van kommentaar wat daarteen ingedien is, in ag geneem is.

Volgens die IRV is die komitee konstitusioneel verplig om ag te slaan op wat Suid-Afrikaners oor onteiening sonder vergoeding sê.

Die komitee het vroeër vanjaar landwyd openbare sittings gehou en derduisende skriftelike voorleggings ontvang. Dit is egter vir drukgroepe en opposisiepartye duidelik dat al die voorleggings nie na behore in ag geneem is nie.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen dit baie duidelik is dat die komitee ’n politieke doelwit het en bereid is om ooglopende prosedurele gebreke in die proses te ignoreer om sy mandaat uit te voer.

 

Soortgelyke plasings