|

Rekordgetal leerlinge deel van Dink of Sink-debat in Noordstreek-uitdunrondte

Is ’n boikot ’n sinvolle manier van protes? Moet ons jag verbied?

Dít was van die onderwerpe waaroor hoërskoolleerlinge die afgelope naweek vurige debatte gevoer het tydens die Dink of Sink-skoledebatskompetisie se uitdunrondte in die Noordstreek.

Dit was dié streek se grootste uitdunrondte nog, met sowat 300 leerlinge van byna 15 skole van Gauteng, Mpumalanga en Noordwes wat aan die kompetisie by Hoërskool Montana deelgeneem het.

Skole wat deelgeneem het sluit die Afrikaanse Hoër Meisieskool, die Afrikaanse Hoër Seunskool, Curro Hazeldean, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Ermelo, Helpmekaar Kollege, Ligbron Akademie, Hoërskool Linden, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Montana, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Rustenburg, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Zwartkop in.

Dié kompetisie word deur die burgerregte-organisasie AfriForum in samewerking met Media24, Beeld, Die Burger en Volksblad aangebied.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool se juniorspan en die Afrikaanse Hoër Seunskool se seniorspan het met die louere weggestap.

In die Suidstreek het Paul Roos Gimnasium vanjaar as seniorspan met die louere weggestap, terwyl Bloemhof Meisieskool as juniorwenner uit die stryd getree het. In die Verre Noorde-streek het Hoërskool Merensky se junior- en seniorspanne as streekswenners weggestap en C&N Meisieskool Oranje het as junior- en seniorwenners in Sentralestreek uit die stryd getree.

Dié streekswenners, tesame met twee skole uit Namibië, sal op 5 Oktober 2019 teen mekaar te staan kom in die finale rondte van dié kompetisie.

“AfriForum het ’n paar jaar gelede besef wat die erns en waarde van gesonde debatvoering is en hoe nodig die ontwikkeling van hierdie vaardigheid onder ons jongmense is. Dit is wonderlik om te sien hoe hierdie kompetisie elke jaar groei en selfs uitbrei na nuwe streke,” meen Carien Bloem, bestuurder vir onderwys by AfriForum.

Soortgelyke plasings