|

RIKUS IS ’N “LEKKER” OU WAT MENSE WIL VERMAAK

Deur Alet Rademeyer

Jonathan van Radio Raps, oftewel die skreeusnaakse Rikus de Beer, is ’n besige man. Ons e-pos en WhatsApp oor en weer om hierdie artikel die lig te laat sien en elke keer voel ek sleg as ek hoor hoe gedruk hy vir tyd aan die anderkant is. Nee, daar’s nie tyd vir ’n onderhoud nie, maar hy beantwoord my vrae op die vliegtuig. Ek pla hom vir die soveelste keer toe hy vinnig in en uit Port Elizabeth is vir foto’s en hy bly die gemoedelike tjom wat die publiek leer ken het wat weer ’n plan sal maak.

Jy het onlangs vir die eerste keer sedert COVID uitgebreek het weer voor ’n gehoor in die AfriForum Teater opgetree. Hoe het dit gevoel om weer “uit te kom”? Ek wil baie geluk en dankie sê aan AfriForum vir die wyse waarop julle die teater opgeknap het. Dit was ’n groot voorreg om my nuwe show daar te launch. Alhoewel die gehore nie so groot was soos wat ’n mens sou wou hê of aan gewoond is nie, was dit rêrig baie lekker en amper ’n vorm van uitlating en terapie om weer op die planke te wees!

Hoe het die inperking die afgelope paar maande jou werk en menswees beïnvloed? Die inperking is uit die aard van die saak ’n massiewe terugslag vir almal wat in die vermaaklikheidswêreld betrokke is, maar dit het my ook geleer om sekere dinge te waardeer en ek het onder andere dié show (#WEDIRRIT) geskryf waarop ek rêrig trots is. Ek praat oop en eerlik oor die struikelblokke waardeur ek moes werk en soos ek gesê het, dit dien as terapie vir my om dit met mense te deel.

Jou vertonings is baie gewild en gereeld uitverkoop. Waarna dink jy is mense op soek? Ek glo dat iets net snaaks is as dit ernstig is. Ek skroom nie om my eie tekortkominge uit te wys nie en ek dink dis vir mense lekker om te hoor dat hulle nie alleen is in hulle alledaagse issues en struikelblokke nie. As ’n mens nie vir jouself kan lag nie, gaan die lewe baie swaar wees vir jou!

Hoe lank neem dit jou om vir ’n vertoning voor te berei? Hoe benader jy dit? Gebeur groot dele sommer op die ingewing van die oomblik of “oefen” jy vooraf? Dit hang van show tot show af. Elke show het ’n  storie, ’n tema en ’n les en ek het sekere punte wat ek voorberei en waarby ek moet uitkom, maar hoe ek dit doen weet ek self nie op die aand nie … Party shows is ’n halfuur langer, ander weer ’n bietjie korter. Dít is vir my die wonderlike ding van regstreekse vertonings, die mense wat dit beleef deel in daardie unieke ervaring saam met jou.

Het jy al voor ’n gehoor opgetree waar dinge ’n bietjie handuit ruk? Ek het … elke sport het sy beserings. Jy kry soms mense wat ’n bietjie té opgewonde raak en dalk net twee ietsies te veel vat en saam wil show. Ek moet sê die meeste mense wat kom kyk is lekker mense en gedra hulle baie mooi, daar is sekere maniere om so iets ook te hanteer. Jy hoef nie van die begin af iemand af te kraak of lelik te wees nie, hulle besef soms self nie dat hulle ’n bietjie hard praat en mense pla nie …

Hoe voel jy as mense jou in die openbaar voorkeer en ’n geselsie met Jonathan wil aanknoop? Ek beskou dit as ’n baie groot voorreg. Ek is ’n mens en ek het al baie foute in my lewe gemaak en die feit dat ek kan doen wat ek doen en enigsins iets positiefs tot iemand se lewe kan bydra  is ’n baie groot voorreg en verantwoordelikheid, en om tyd te vat vir ’n vinnige geselsie of foto is die minste wat ’n mens kan doen.

Waar het jy grootgeword en skoolgegaan? Ek het op ’n plaas buite Klerksdorp grootgeword en was in Laerskool Goudkop en Hoërskool Wesvalia.

Hoe sal jy jou kinderjare beskryf? Ek is baie dankbaar vir my kinderjare, veral die tye wat ek alleen buite op die plaas rondgedwaal het. Ek het só my verbeelding ontwikkel en my eie wêreld geskep. Dit was nog in die dae waar jy in die straat afgeloop het na jou pelle toe en tot sonsondergang in die strate en parkies gespeel het. Vandag is dit nie so maklik nie en dis baie jammer en tragies.

Min mense weet dat jy eintlik ’n kranige rugbyspeler was wat danksy ’n sportbeurs aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) kon studeer, maar meer op akademie gefokus het nadat jy jou rug gebreek het. Jy het jou BCom-graad verwerf en in ’n stadium as verkoopsman vir John Deere gewerk, terwyl jy ook ’n ruk lank as finansiële adviseur werksaam was. Hoe sal jy laasgenoemde ervarings beskryf en hoe het dit jou in jou loopbaan gehelp? Ek het BCom studeer, maar ek wou die laaste paar vakke wat ek gekort het deur Unisa doen, en ek het dit nóú nog nie gedoen nie. Ek wou vroeg op my eie voete staan en het vinnig besef dat boeke jou nie die meeste gaan leer van die wêreld daarbuite nie. Jy moet dinamies kan dink en leer om dinge van verskillende kante af te benader. Ek is baie bly ek is daardeur en dit het my geleer om my brands alles as ’n besigheid te bestuur.

Jy is al deur diep waters met jou gesondheid. Kardiomiopatie is onder meer by jou gediagnoseer. Hoe gaan dit nou met jou gesondheid en hoe hanteer jy dit dag tot dag? Dit gaan baie goed. Die geheim is maar om ’n gesonde balans tussen gesond lewe en goeie tye te handhaaf.

Wat is volgens jou die moeilikste aspek van komediant wees? Ek dink om jou eie brand te bou.

Wanneer kan die publiek weer ’n DVD verwag? Die nuutste show, Lang Storie Kort, sal eersdaags gratis op al ons platforms beskikbaar wees danksy ’n borgskap van Castle Lite. Ons het gepraat en voel die mense verdien ’n bietjie verligting in hierdie tyd.

Jy besit ook drie suksesvolle Hennie’s-restaurante? Wat dink jy is die suksesresep hiervoor? Ek dink ek verstaan die mark waarvoor ek cater, want ekself is daardie mark. Dit gaan oor ’n ervaring en ek is baie dankbaar dat die mense so positief daaroor is en dit ondersteun. Ons is vinnig op pad om nóg ’n paar takke reg oor die land te vestig.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is juis besig om die SAPD te vervolg vir onregmatige optrede by een van jou restaurante in Pretoria. Is jy ’n ondersteuner van die organisasie? Ek is ’n baie groot ondersteuner van AfriForum en die werk wat julle doen! Alles in die lewe moet ’n doel hê en dit moet meetbaar wees. AfriForum se werk en hulp wat die organisasie bied spreek vanself en ek dink julle en julle lede kan trots wees.

Suid-Afrika is op sy beste deesdae nogal deurmekaar. Hoe voel jy oor die toekoms en steur jy jou enigsins aan politiek? Ek haat politiek! Ek vermy dit ook in my shows omdat ek juis vir mense ontvlugting probeer skep met wat ek doen en hulle van die duidelike sirkus te laat vergeet! Ek is wel baie lief vir die land en is optimisties oor die toekoms!

Hoe, waar en saam met wie ontspan jy die lekkerste? Ek is baie gelukkig om ’n baie groot groep vriende en familie te hê en wanneer ek tyd het, is ek stout vir ’n braai of om Bosveld toe te gaan of ’n vissie te vang. Ek is maar ’n boerseun wat mal is oor jag en die natuur en stories. Partykeer deel ons dit en partykeer maak ons nuwes.

Dink jy dat mense soms die verkeerde persepsie van jou het? Ek dink nie dis my werk en doel om mense ’n spesifieke persepsie van myself te gee nie. Alhoewel ek ’n dieper kant het, is die primêre produk waarop ek fokus en met alles waarmee ek besig is, om mense ontvlugting te gee.

As daar een ding in die wêreld is wat jy kon verander, wat sou dit wees? Ek sou wou hê mense moet hul vermoë om te kan dink en logika toe te pas gebruik en nie met hulle emosies “dink” nie. As iemand ’n besluit neem op grond van emosie, gaan feite en logika geen impak hê om iemand se opinie te verander nie.

Soortgelyke plasings