|

Russiese studente sien toekoms vir Afrikaans

“Afrikaans is ʼn pragtige en emosionele taal. Dit is baie onregverdig dat dit in Suid-Afrika so onderdruk word.”

Só meen Valentina Kim (22), een van ses Russiese studente wat Afrikaans onderskeidelik as Eerste en Tweede addisionele taal by die Lomonoso- Moskouse Staatsuniversiteit se Instituut vir Asiatiese en Afrikatale studeer.

Dié groep studente het vandag die burgerregte-organisasie AfriForum en vakbond Solidariteit se hoofkantore in Centurion besoek as deel van ʼn kultuurtoer wat deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gereël is om hul meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

Volgens Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte by die FAK, het dié studente in Moskou die organisasie se aandag getrek nadat prof. Deon Geldenhuys van die Universiteit van Johannesburg Moskou besoek het. Die organisasie het daarna ’n uitnodiging aan die studente gerig om Suid-Afrika te besoek meer oor Afrikaans en Afrikaanssprekendes te leer.

“Afrikaans het vir my die mooiste klankpatrone en uitspraak,” sê Alisa Balikhina (22), een van die studente wat ook in 2015 vir ses maande Afrikaans deur ʼn uitruilprogram aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom studeer het.

“Ek het by ʼn Afrikaanse gesin in Potchefstroom gewoon en het so veilig en tuis gevoel. Daar is ʼn groot gevoel van enigheid en ʼn lekker studentegees. Ek sê vandag nog dat ek ʼn trotse Pukkie is.”

Sy het aan Forum Nuus gesê dat Russiese instansies nie dieselfde druk ervaar as die Suid-Afrika om te verengels nie. Sy meen daar is baie potensiaal vir Afrikaans om wêreldwyd te groei.

“Daar is nie ʼn manier dat Engels ooit ʼn amptelike taal van Rusland sal word nie. Ons is té trots op ons eie taal en kultuur.”

Die Lomonosof-Moskouse Staatsuniversiteit is die oudste opvoedkundige instelling van Rusland en het ‘n lang tradisie van akademiese uitnemendheid. Afrikaans is een van die vyf Afrikatale wat studente aan dié universiteit kan studeer.

Stefan Loekjanenko (21), sê dat hy op Afrikaans besluit het omdat dit vir hom soos ʼn baie mooi taal geklink het. Hy vertel ook dat sy besoek aan Kaapstad vir hom sover ʼn hoogtepunt was. “Dié stad het alles. Berge, die see en so baie verskillende mense van verskillende kulture. Dit was ʼn ongelooflike ervaring om dit te besoek.”

Varvara Smirnowa (22), ook een van die Russiese studente, het aan Forum Nuus gesê dat dit vir haar soms uitdagend was om Afrikaans te leer, omdat die klanke en sinskonstruksie baie van Russies verskil. Sy sê voorts dat sy dit baie geniet het om ʼn kerkdiens in Afrikaans by die NG Kerk Lyttelton by te woon. “Daar was vir my ʼn mooi gevoel van eenheid tydens die kerkdiens. Ek het dit baie geniet.”

Die studente het reeds onder meer die Hoërskool Centurion, Protea-boekehuis, die Voortrekkermonument, asook die stel van die sepie Binnelanders en Beeld-koerant se kantore in MediaPark in Johannesburg besoek.

Hulle gaan in die volgende week verskeie ander besienswaardighede in Pretoria en Johannesburg besoek en keer op 14 Februarie terug na Rusland.

Soortgelyke plasings