|

SA kampusse ruk tot stilstand

Talle universiteitskampusse regoor die land is vandag verlate en stil nadat alle universiteitsbedrywighede opgeskort is weens gewelddadige betogings deur studente oor ’n voorgestelde 10,5% verhoging in klasgelde.

Die eerste betoging het verlede week by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) met die Fees must fall-veldtog begin. Sedertdien het studente landwyd die radikale groep by Wits se voorbeeld gevolg.

Klasse by Wits, Rhodes en die Universiteit van Kaapstad (UK) is al vir twee dae opgeskort, onder meer weens veiligheidsredes. Klasse by Tukkies is ook vandag gestaak en by die Noordwes-universiteit is ook ’n gespanne atmosfeer.

Video’s en foto’s van dié betogings het sosiale media die afgelope paar dae aan die gons.

Ian Cameron, woordvoerder vir AfriForum Jeug, meen egter dat die betogings oor veel meer as net ’n verhoging in klasgelde gaan.

“Hierdie radikale studentegroepe (Sasco, EFF en die ANC-jeugliga) se gewelddadige optogte is ʼn dekmantel om op transformasie aan te dring daar waar hulle nie sogenaamde beheer het nie,” sê Cameron.

Volgens Cameron is AfriForum Jeug ook gekant teen die enorme verhogings in klasgelde en voer hulle tans veldtogte wat daarop gemik is om klasgelde te verlaag. “Dit is egter nie nodig om kampusse so te ontwrig dat studente se studies daardeur benadeel word nie. Tans maak hierdie radikale studentegroepe inbreuk op ander studente se regte omdat klasse en eksamens ontwrig word.”

Verskeie ontleders met wie Forum Nuus gepraat het, meen daar moet op verskillende vlakke na dié krisis gekyk word.

Daar is onder meer ernstige vrae oor die stilswye waarmee die regering die probleme gade slaan. Een onderwyskundige het gesê dit help veel dat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, van die kantlyn af studente probeer paai deur klasgelde op 6% te probeer vasstel.

Nzimande het ’n enorme aandeel in die chaos aangesien hy by verskeie geleenthede in die verlede homself en die regering tot gratis hoër onderwys vir arm studente verbind het. “Ons pluk nou die wrange vrugte van valse verwagtinge wat onder derduisende jongmense geskep is.

“Nog ’n probleem is dat hy die verwagting geskep het dat alle skoolverlaters toegang tot universiteite kan kry. Die werklikheid is dat daar beperkte infrastruktuur en hulpbronne by instellings is. Daar is eenvoudig nie genoeg lesinglokale, toerusting of dosente om almal op te lei nie.”

Die regering sal indringend na ander naskoolse geleenthede vir studente moet kyk. Universiteite kan net sowat 180 000 studente per jaar inneem, terwyl meer as 600 000 kandidate elke jaar matriek skryf.

Nog ’n ontleder het gesê die probleem lê ook op ’n politieke vlak waar die regering transformasie met alle mag wil afdwing wat daarop neerkom dat universiteite die demografiese profiel van die land moet weerspieël. Dit beteken verdienstelike studente en diegene wat op meriete geleenthede tot verdere onderrig moet kry, word dit summier ontneem. Dit kom op growwe rassisme en ’n miskenning van minderhede se grondwetlike regte neer.

Die ander probleem wat die regering in die gesig staar, is die bestuur en administrasie van die nasionale studente finansieringshulpskema (Nsfas) wat vanjaar miljarde beloop, maar wat nie noodwendig studente bereik nie. Talle bewerings van korrupsie en wanbestuur van die skema is al in die verlede geopper. Daarbenewens beskik die staat glad nie oor die vermoë om die geld wat deur middel van lenings aan studente beskikbaar gestel word na hul studies te verhaal nie. Miljoene rande moet afgeskryf word.

Dit was die afgelope paar weke duidelik dat klasgelde nie radikale studente se enigste dryfveer vir anargie is nie. Dit is duidelik dat aanhitsing om instellings onregeerbaar te maak nie uitgesluit kan word nie. Vandaar veldtogte soos #Rhodesmustfall, #OpenStellenbosch, #Tukssowhite, #ReformPUK, #Feesmustfall, #Totiusmustfall en ander waar Afrikaans en standbeelde soos die van Totius en Cecil John Rhodes as sondebokke uitgesonder word om hul boodskap van sogenaamde rassisme en transformasie uit te dra.

 

Soortgelyke plasings