|

SAAI op pad om landboubande in Hongarye en Duitsland uit te brei

’n Afvaardiging van die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (SAAI) vertrek vandeesweek op besoek aan Hongarye en Duitsland waar hulle met landbou- en regeringsverteenwoordigers sal ontmoet om bande te smee en uit te brei en knellende kwessies te bespreek.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van SAAI, en dr. Theo de Jager, voorsitter van die uitvoerende raad van SAAI en president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO), gaan tydens die besoek die pleidooi van Suid-Afrikaanse boere, plaasmoorde en die resolusie oor familieboerdery bespreek en op die agenda plaas.

Tydens die algemene vergadering van die VN verlede jaar is ’n resolusie vir die Dekade van Familieboerdery (2019 – 2028) aanvaar. Dit dien as raamwerk vir state om openbare beleid en beleggings ter ondersteuning van familieboerdery te ontwikkel ten einde die oorheersende rol te beklemtoon wat familieboere se bydrae is om volhoubare ontwikkelingsdoelstellings te bereik, in besonder met betrekking tot voedselsekerheid en voeding.

Die algemene vergadering het herbevestig dat familieboere van kardinale belang is met die oog op die beëindiging van armoede teen 2030.

Rossouw sê SAAI gebruik elke geleentheid om die boodskap uit te dra dat familieboere sleutelrolspelers is wat betref die bewaring van landboubiodiversiteit, die handhawing en bou van gemeenskappe, die versekering van voedselsekerheid sowel as voeding en welstand wat bewerkstellig word deur werkskepping en die skep van sakegeleenthede in landelike gebiede.

Volgens Rossouw sal SAAI ook met ander rolspelers ontmoet om te kyk na moontlike studie- , beleggings- en handelsgeleenthede wat tot voordeel van Suid-Afrika en die lande kan wees.

Suid-Afrikaanse boere staar enorme uitdagings in die gesig nie net wat plaasmoorde, landelike veiligheid en dreigende onteiening sonder vergoeding betref nie. Baie boere gaan etlike jare reeds onder knellende droogtes gebuk en sukkel om finansieel en andersins kop bo water te behou.

SAAI is as ’n landboubelangenetwerk gestig vir boere deur boere, wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder. Vir meer inligting besoek www.saai.org

Soortgelyke plasings