Saak teen Dundee-boer uitgestel tot Desember

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hy is bekommerd oor die hof se hantering van Garth Simpson, ’n boer van Dundee, se borgaansoek. Die hof het meer as ’n maand geneem om die oorkonde aan AfriForum se regspan te oorhandig sodat die appèlaansoek opgestel kan word teen die hof se besluit om Simpson borg te weier. Dit is uiters kommerwekkend siende dat Simpson nog al die tyd in aanhouding is.

Simpson, wat van moord aangekla is ná ’n skietvoorval op sy plaas, se saak het vandag weer voorgekom vir die oorhandiging van die ballistiese verslae. Die saak is uitgestel na 14 Desember sodat die staatsaanklaer die dossier kan finaliseer. Simpson sal in aanhouding bly.  

Die organisasie is van mening dat die redes wat aangevoer is vir die weiering van borgtog onvoldoende is. Die hof het onder andere aangevoer dat hy die borgaansoek van die hand wys vir Simpson se eie veiligheid.

AfriForum het vroeër aangekondig dat hy Simpson met regshulp sal bystaan omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie.

AfriForum raak as ’n reël nie by individuele sake betrokke nie, maar het ’n uitsondering gemaak omdat daar groter kwessies ter sprake is wat nie net die beskuldigde raak nie, maar die breër gemeenskap.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sê boere ervaar daagliks talle probleme soos onwettige oortreders op hul grond, onwettige weiding, grondgrype en plaasaanvalle. “Politici wat gereeld uitsprake maak teen boere en onteiening sonder vergoeding aanmoedig, skep ’n spannende atmosfeer in verskeie landelike gebiede.”

Soortgelyke plasings