|

Saak teen Parys-boere en polisiekaptein uitgestel

Die hofsaak teen die vier boere van Parys in die Vrystaat en ’n polisiekaptein wat van moord aangekla word op twee plaasaanvallers, is uitgestel tot 15 April.

Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en  Anton Loggenberg het vandag saam met kapt. Henk Prinsloo in die landdroshof op die dorp verskyn. Prinsloo is ook vandeesweek vir die moord gearresteer en op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die ander beskuldigdes is ook elk op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Verskeie ondersteuners van die EFF en ANC het voor die hof gesing en dans en plakkate rondgeswaai, terwyl die gebied rondom die hof met lemmetjiesdraad afgesper is.

April Motaung, die EFF se streeksvoorsitter, het voor die hof rassistiese uitlatings gemaak en gesê ’n protesoptog word beplan teen die hof wat die beskuldigdes borg gegee het.

Die beskuldigdes se hofverskyning spruit voort uit ’n aanval in Januarie op Van der Westhuizen se pa, Loedie (72). Hy is laatmiddag op sy plaas deur twee mans oorval waarvan een gewapen was. Die man het hom met die wapen aangehou en geld van hom geëis. Hy is aangerand nadat hy daarin kon slaag om die noodknoppie in die huis te druk. Die aanvallers het op die vlug geslaan. Die gemeenskap se boere asook boere van omliggende dorpe het gemobiliseer om die aanvallers aan te keer. Hulle is aan die polisie oorhandig en later dood.

Saak teen Parys-boere en polisiekaptein uitgestel
Saak teen Parys-boere en polisiekaptein uitgestel

Landdros Leshni Pillay het op rekord beklemtoon dat dit die laaste keer is wat die saak uitgestel word aangesien die staat ook nie tydens die mans se eerste verskyning gereed was om voort te gaan nie. Die staat het vroeër aangevoer dat hy nie genoeg tyd gehad het om die saak te ondersoek nie. Pillay het gesê die saak sal nie weer uitgestel kan word nie omdat dit die beskuldigdes se regte sal benadeel.

Die vier boere se regsverteenwoordigers het vroeër aangevoer hulle is onregmatig in hegtenis geneem en dat daar geen bewyse teen hulle is nie.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die AfriForum, het die verrigtinge bygewoon en betreur dat die saak in die hof beslis moet word. “Die saak is nie so eenvoudig soos dit lyk nie. Plaasmoorde en –aanvalle teister die hele land, maar dié en ander boere-gemeenskappe in die besonder. Daarmee saam hang die feit dat die polisie weier om hierdie misdade te prioritiseer en dit behoorlik te ondersoek.”

Roets het gesê plaasmoorde en –aanvalle lei tot wantroue in die polisie en regering en dit dra by tot groter rassespanning in die land.

Hy het gesê die saak moet behoorlik ondersoek word en die reg moet sy gang gaan.

In die Parys-omgewing was daar al van die wreedste plaasmoorde denkbaar.

Ernst (77) en Annatjie van Rooyen (76) is in Januarie 2013 wreed aangerand en vermoor. Annatjie is in ’n vrieskas toegesluit en het versmoor.

In 2010 is die gemeenskap geruk toe die 40-jarige boer Johan Strydom vermoor is. Hy is oor die kop geslaan, ’n ketting om sy enkel gebind en agter sy bakkie aangesleep.

AfriForum het vroeër ’n plan aangekondig om die beskuldigdes by te staan wat ondermeer hulp met regskoste insluit.

Lede van die publiek kan ook bydra deur R10 te skenk en “Parys Boere” na 38312 te SMS.

AfriForum het verskeie versoeke van die publiek ontvang wat donasies wil maak om die boere by te staan. Bydraes kan inbetaal word by: AfriForum NPC, FNB Centurion, Rekeningnommer: 62349898398, Takkode: 261550. Gebruik die verwysing “Parys Boere”. AfriForum se finansiële afdeling sal skenkings in samewerking met die beskuldigdes se familie monitor en aanwend.

Soortgelyke plasings