|

SAAK TEEN VERMEENDE KINDERMISHANDELAARS BEGIN

Die saak teen twee ouers wat op klagtes van kindermishandeling in hegtenis geneem is, het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria begin. Die ouers van die baba is in Augustus 2020 in hegtenis geneem nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Julie verlede jaar dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het om strafregtelike klagtes in te dien.

Die babadogtertjie is in Julie 2020 in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem met verskeie beenbreuke (wat volgens dokters op verskillende tye plaasgevind het) en beserings wat strook met kindermishandeling. Sy is voor dit ook in April 2020 – toe sy omtrent vyf weke oud was – by  dieselfde hospitaal opgeneem, ook met beserings wat gedui het op kindermishandeling. Haar dokters en ’n privaat maatskaplike werker het toe ’n saak by die polisie en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld en aanbeveel dat die baba uit haar ouers se sorg verwyder word. Die saak teen die ouers is egter van die rol geskrap omdat daar volgens die landdros ’n gebrek aan bewyse was. Die baba was tydelik in haar ouma se sorg geplaas, maar sy is daarna weer terug na haar ouers.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nadat die kind ’n tweede maal in die hospitaal opgeneem is, ingetree en klagtes teen die ouers ingedien.

Beide die ouers het onskuldig gepleit.

Die staat het vandag sy eerste getuie, ’n aangetroude familielid, geroep. Die familielid het getuig dat die ma van die baba haar gereeld verwaarloos het en dat die baba ook ondervoed was.

“Dit is uiters teleurstellend dat die polisie in die eerste plek met die ondersoek gesloer het, en die saak daarna boonop van die rol geskrap is ten spyte van sterk bewyse teen die beskuldigdes. Dit het daartoe gelei dat die kind weer eens erg aangerand is en sy het by die dood omgedraai. Hierdie is ’n onskuldige kind wat nie verdien het om ’n slagoffer van haar eie ouers te word nie. Dit is hoog tyd dat hoëvlak amptenare ophou met lippediens oor geweld teen kinders en vroue, en eerder begin optree teen oortreders,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

Die saak gaan môre voort.

Soortgelyke plasings