|

Saak teruggetrek teen UCT-studente wat skilderye verbrand

Die saak teen die drie UCT- studente, Masixole Mlandu, Chumani Maxwele en Slovo Magida, wat na bewering vroeër vanjaar sowat R600 000 se skade aan 24 geskiedkundige skilderye verrig het, is vandeesweek in die landdroshof in Wynberg laat vaar en moet die beskuldigdes slegs gemeenskapsdiens doen.

Dít kom nadat ondersteuners van die #RhodesMustFall-betogingsveldtog in Februarie vanjaar kultuurgoedere geskend het deur historiese skilderye asook voertuie op dié kampus aan die brand te steek as deel van ʼn protesaksie oor behuisingskwessies.

As deel van dié protes het studente informele strukture (sinkhuisies) buite die Jameson Saal opgerig en die universiteit daarvan beskuldig dat hulle diskrimineer en slegs vir wit, ryk studente voorsiening maak vir verblyf.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is van mening dat sake soos dié geloofwaardigheid aan erfenisskending in Suid-Afrika gee.

“Kunswerke is erfenisstukke en het ʼn uniekheid wat onvervangbaar is. Omdat erfenis aan almal behoort, word almal se regte geskend wanneer kunswerke soos dié beskadig word.”

Sy sê voorts dat daar beter maniere vir studente is om hul ontevredenheid oor behuisingskwessies uit te beeld.

“Dit is jou reg om ʼn debat oor ʼn onderwerp te voer en iets te bevraagteken, maar dis nie jou reg om vandalisties op te tree om jou boodskap oor te dra nie.”

Soortgelyke plasings