|

Saak van seksuele aanranding en teistering teen voormalige waarnemende regter weer volgende maand op die rol

Die saak op klagtes van seksuele aanranding en teistering teen ’n voormalige waarnemende regter is vandag in die Johannesburg Landdroshof uitgestel tot 16 Mei 2022 vir verdere besonderhede. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot die saak toegetree het nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik besluit het om nie te vervolg nie en die slagoffer, ’n vroulike advokaat wat lid is van die Johannesburg Balie, die Privaatvervolgingseenheid om hulp genader het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Oktober 2021 vertoë aan adv. Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng (DOV), gerig omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die regter gedoen is nie. Die DOV se kantoor het in Februarie 2022 in ’n skrywe aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui dat hulle ná ontvangs van die vertoë wel besluit het om die beskuldigde te vervolg.

Die klaer het ook die Balieraad, die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Raad vir die Regspraktyk (LPC) genader, maar min tot geen ondersteuning vanaf hierdie professionele liggame ontvang. Nadat die Privaatvervolgingseenheid dit egter onder die LPC se aandag gebring het dat die beskuldigde nou vervolg word, het die Raad, amper as ’n nagedagte, besluit om dissiplinêre stappe teen die voormalige waarnemende regter te doen.

Die beskuldigde het verder aansoek gedoen by die Regterlike Dienskommissie (RDK) om as voltydse regter oorweeg te word, maar hy het hierdie aansoek teruggetrek nadat vervolging ingestel is. Hy het ook, nadat die klaer die klagtes teen hom gelê het, ’n saak van crimen injuria teen haar gemaak waarna die ondersoek beampte in die saak vir haar gesê het dat sy kan bly wees dat sy nie op hierdie klagtes vervolg word nie. Die NVG het egter aangedui dat hulle geen vervolging op grond van hierdie klag sal instel nie.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, het die klaer aangedui dat sy deur haar kollegas aangeraai is om die saak terug te trek, omdat dit tot die self-georkestreerde ondergang van haar loopbaan kan lei. “Dit bevestig die klaer se siening dat dit ’n gevaarlike beroep is om ’n vrou in Suid-Afrika te wees. Alhoewel dit moeilik is om te glo, het ons tot die besef gekom dat sekere lede van die samelewing (meestal mans) onbewus is van die impak van die seksuele teistering van vrouens. Ons sal egter voortgaan om hierdie slagoffers te ondersteun, wat dapper genoeg is om standpunt in te neem en te sê ‘tot hier toe en nie vêrder nie’,” sê adv. Vorster.

Die klaer het ook aangedui dat sy in elke opsig gefaal is deur die verskeie professionele liggame wat daarmee getaak is om ondersoeke na hierdie tipe gedrag te loods en dat hulle die pyn en trauma wat die beskuldigde vir haar veroorsaak het voorheen geïgnoreer of nie ernstig opgeneem het nie. “As ’n praktiserende advokaat van die Hoë Hof van Suid-Afrika en ’n lid van wat geag word ’n hooggeagte instansie te wees, het die verloop van gebeure my egter eerder die realiteit van dreigemente tot my veiligheid, loopbaan en heenkome laat besef. Ek is baie dankbaar vir AfriForum se ingryping in hierdie saak, want daar was geen ander organisasie wat weerbaar genoeg was om standpunt in te neem teen ’n sisteem of spesifieke individue wat geag word onoorwinlik te wees nie, of die integriteit of postuur het om diegene te beskerm wat slagoffers van die pandemie van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika is nie,” sê die klaer.

Soortgelyke plasings