|

Sagteware-ingenieur gee jonges raad oor toekomsgeleenthede

Kundiges het vroeër vanjaar by ’n kongres van die Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum (SOS) gewaarsku dat die wêreld besig is om radikaal en teen ’n enorme spoed te verander en dat onderrigmodelle en klaskamerpraktyk ingrypend sal moet verander om tred hiermee te hou.

Marietjie Davel, ’n ondersteuner van AfriForum en ’n gekwalifiseerde sagteware-ingenieur, deel hierdie kundiges se kommer en sê dit is belangrik dat jong mense moet weet watter opsies hulle in die toekoms in terme van werksgeleenthede gaan hê.

Sy het haar idees met Forum Nuus gedeel om jong mense bewus te maak van hoe radikaal die hede en die toekoms nog gaan verander wat die wêreld van werk betref.

Davel het ‘n BSc-graad in rekenaarwetenskappe. Sy het haar tesis in 2018 voltooi wat handel oor die uitken van kriminele deur gesigprofiele in ’n algoritme te plaas.

In 2015 was sy een van sewe topfinaliste vir die WNNR se AVI-toekennings vir innovasie. Sy werk vir haarself en doen projekte vir groot maatskappye.

Soos Stefan Botha en dr. Lieb Liebenberg van FutureLearn en ITSI (’n e-leer verskaffer), vroeër aangedui het, vind geweldige ontwrigting in die wêreld plaas en word reeds van die 4de en 5de industriële revolusie gepraat. Hulle meen dat 40% van 500 groot maatskappye oor tien jaar nie meer sal bestaan nie en dat talle tradisionele beroepe net so vinnig gaan verdwyn. Rekenaars en robotte gaan ’n groot deel van mense se werk oorneem.

Davel het die situasie op Suid-Afrika van toepassing gemaak en meen ondanks die industriële revolusie, het Suid-Afrika ook ander probleme soos ’n ekonomie wat nie groei nie, hoë werkloosheid en politieke faktore en beleide wat nadelig vir die land is en dit nog moeiliker vir jong mense maak om werk te kry.

“WEF Future Jobs rapporteer dat teen 2022 sowat 75 miljoen werke vervang gaan word deur “slimmasjinerie” soos rekenaars of robotte en slim algoritmes.

“Terselfdertyd gaan daar 133 miljoen werksgeleenthede oopgaan vir individue met die regte kennis en ervaring van inligtingstegnologie. Dit beteken dat in al ons werkplekke, 54% van werkgewers gaan verwag dat ons ons kennis moet opskerp ten opsigte van veranderende tegnologie. Sakemodelle van besighede gaan ook aangepas moet word om te verseker dat hulle relevant bly.

Davel verwys ook na die bankbedryf en ander ondernemings soos MultiChoice wat takke sluit en duisende mense aflê. “Talle mense se werk word nou reeds en gaan in die toekoms nog meer deur byvoorbeld toepassings (app’s) vervang word.  Mense gaan byvoorbeeld nie meer in na banke om hul sake te doen nie. Hulle doen dit sommer op hul slimfone.”

Volgens Davel gaan baie administratiewe take ook deur tegnologie gedoen word.

Ook wat handel betref, wag radikale veranderinge in die toekoms. As voorbeeld het sy na die toepassing Wish verwys wat ’n aanlyn-verkope-toepassing is wat al China se verkope regoor die wêreld hanteer.

Volgens Davel praat mense ook nie meer soveel met konsultante nie. Mense praat reeds met chatbots wat ‘n stukkie sagteware is en stem- of teksmetodes gebruik om ’n gesprek te voer en vir mense opsies gee om ‘n probleem te hanteer.

’n Projek waaraan Davel op die oomblik werk is ’n slimfoontoepassing wat op die restaurantbedryf gemik is en menslike faktore rondom kosbediening gaan beëindig.

Davel wys daarop dat telebemarkers ook toenemend oorbodig gaan wees omdat robotte reeds die werk doen. Nog ’n terrein wat gaan verander is webtuisteontwikkeling. “Meer en meer mense gaan dit eenvoudig self doen deur gebruik te maak van slim template.

“Dokters, prokureurs en enige ander administratiewe kantoorwerke gaan ook vervang word.”

Davel meen jong mense wat hulself vir die toekoms wil voorberei, moet veral studierigtings in die wetenskap, tegnologie, wiskunde en ingenieurswese oorweeg. Sekere werk sal nie deur masjinerie gedoen kan word nie, maar programme sal wel geskryf word om die werklading in die beroepe ligter te maak. In die geval van argitektuur byvoorbeeld sal dit moontlik wees om ’n algoritme te skryf wat huisontwerp outomatiseer. Ook wat landbou betref, gaan meer mense in dié bedryf hul werk verloor soos wat al meer implemente en toerusting gerekenariseerd en geoutomatiseer word.

Davel kan gevolg word by https://www.linkedin.com/in/marietjie-davel-8835478a/

Soortgelyke plasings