|

Sakeregte-waghond AfriSake staan sterk met meer as 5 000 lede

“Ons ervaar dat die Afrikaanse sakegemeenskap baie gemarginaliseer word, hetsy deur arbeidswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging of die aanval op eiendomsreg. ”

“Daarom wil AfriSake maatskappye en entrepreneurs mobiliseer en ʼn spreekbuis wees waardeur hul stemme gehoor kan word.”

Só sê Stefan Pieterse, woordvoerder van AfriSake. Dié organisasie het pas die 5 000-kerf vir aktiewe lede verbygesteek.

Volgens Pieterse is dié mylpaal bereik deur harde werk, deursettingsvermoë en goeie veldtogte.

“In die lig van die huidige politieke en ekonomiese omstandighede is dit krities belangrik om te sorg dat die beginsels beskerm word waarop gesonde sakeregte staan.”

Pieterse meen AfriSake tree op vir belangrike en onderliggende beginsels in die sakewêreld soos regverdige mededinging en die beskerming van eiendomsreg. Laasgenoemde is volgens hom een van die faktore wat die sakewêreld tans die meeste gaan beïnvloed.

“Eiendomsreg is ’n hoeksteen van die demokrasie. Indien ons nie beheer het oor ons bates nie, is ons nie vry nie en sonder vryheid kan ons nie demokraties funksioneer nie.”

Die nie-winsgewende organisasie ondersteun ook die beginsel van ʼn vryemarkstelsel en is in 2011 deur senior sakelui tot stand gebring. Die huidige speelveld vir Afrikaanse sakelui raak al hoe meer ongelyk en bemagtigingwetgewing, hoë belasting en regulasies is volgens AfriSake besig om die sakeomgewing te ondermyn.

AfriSake se doel is dus om ʼn georganiseerde drukgroep te wees wat die belange van die werkgewer en die professionele persoon beskerm en bevorder.

“Dit is vir ons krities dat daar ʼn gees van entrepreneurskap in die land moet wees sodat ons werksgeleenthede kan skep en bydra tot ekonomiese groei.”

Deel van AfriSake se visie vir die toekoms is om ʼn sake-netwerk te skep waar ondernemings mekaar kan ondersteun. Lidmaatskap is inklusief en bestaan uit beide maatskappye en individue.

“Daar is hoop. Entrepreneurs hoef nie slagoffers van die wet te wees nie. Ons wil graag ons droom van 10 000 lede teen die einde van die jaar verwesenlik en ons glo regtig dit is moontlik,” meen Pieterse.

Volgens Pieterse beteken die sterk groei dat AfriSake ʼn nuwe fase kan betree waar meer veldtogte, meer hofsake en meer aksies aangepak kan word om diens aan lede verder te verbeter.

Daarom beplan die nie-politiese organisasie om die Wetsontwerp op Onteiening in die Konstitusionele hof te gaan betwis sodra dit gepromulgeer word.

Die wetsontwerp benodig slegs die president se handtekening om as een van Suid-Afrika se gevaarlikste wette gepromulgeer te word nadat die Nasionale Vergadering dit met 202 stemme teenoor 88 goedgekeur het. AfriSake het die regsmening van drie top advokate in die land hieroor ingewin en sal die belangrikste regte van grondeienaars by ʼn geleentheid verduidelik sodra die omstrede wet finaal afgeteken is.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is van mening dat sekere klousules in die Wetsontwerp op Onteiening strydig is met die Grondwet en daarom is pres. Jacob Zuma gevra om dit nie te onderteken nie. Dit is ook na die Nasionale Vergadering terug verwys.

Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die SAIRV sal ook by AfriSake se geleentheid die instituut se siening oor die omstrede wet deel.

AfriSake is volgens Pieterse nie ʼn gewone sake-instelling nie, maar eerder ʼn instrument ter bereiking van ʼn breër visie naamlik dat die Afrikaanse sakegemeenskap sinvol en op ʼn regverdige en gelyke vlak met ander gemeenskappe aan die Suid-Afrikaanse ekonomie kan deelneem.

Om aan te sluit besoek AfriSake se webtuiste by www.afrisake.co.za of SMS jou naam na 42310.

Soortgelyke plasings