|

SAPD erken AfriForum amptelik as teenmisdaadvennoot

AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vandag ʼn geskiedkundige samewerkingsooreenkoms onderteken waarin die SAPD erkenning aan AfriForum gee as ʼn amptelike teenmisdaadsvennoot in Suid-Afrika.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is dié ooreenkoms die hoogtepunt van ontmoetings en samesprekings tussen die burgerregte-organisasie en die polisie. Dit is gemik op die verbetering van wedersydse kommunikasie en skakeling, asook om probleme in terme van misdaad gesamentlik te identifiseer en op te los.

Die burgerregte-organisasie, wat tans sowat 90 buurtwagstrukture landwyd het, het reeds verskeie veiligheidsveldtogte op plaaslike vlak in samewerking met die polisie aangepak om misdaad in veral landelike gebiede te bekamp.

“Die polisie het vandag amptelik erkenning gegee aan AfriForum se veiligheidstrukture as vennoot in die stryd teen misdaad. Deur hierdie soort vennootskappe kan ons Suid-Afrika ʼn veiliger plek maak,” meen Cameron.

Hy het veral lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale kommissaris van die SAPD, geloof vir die ommekeer in die polisie sedert hy by lt. genl. Riah Phiyega oorgeneem het. “Dit dui op leierskap wat verstaan wat op grondvlak aangaan en wat strategies daarvolgens kan aanpas.”

Phahlane het tydens die geleentheid vandag gesê dat die SAPD verbind is tot die voorkoming en bestryding van misdaad oor alle gemeenskappe heen. Hy het die belangrikheid van samewerking tussen die polisie en strukture soos AfriForum, wat ingestel is op die behoeftes van plaaslike gemeenskappe, beklemtoon.

“Ons het in die afgelope jaar met AfriForum geskakel en bevestig dat hierdie ooreenkoms ’n belangrike rol te speel het in die deel van inligting, asook met aktiwiteite teen misdaad en ondersteuning aan die SAPD om geïdentifiseerde gemeenskappe by aktiwiteite teen misdaad te betrek,” meen hy.

Volgens Phahlane is dié samewerkingsooreenkoms tussen die SAPD en AfriForum een van die tasbare uitkomste van die SAPD se Back to Basic-benadering, wat daarop gemik is om na alle gemeenskappe in die land uit te reik.

“Ons ooreenkoms met AfriForum is baie belangrik en bevestig dat ons as die polisie en gemeenskappe gaan saamwerk. Ons is dankbaar dat AfriForum leiding geneem het en na vore gekom het om in te gryp en hul samewerking te bied in die stryd teen misdaad.”

Die partye onderneem in die samewerkingsooreenkoms om mekaar wanneer nodig en waar toepaslik behulpsaam te wees en met mekaar te skakel om vas te stel hoe AfriForum sy aktiwiteite met die strategiese doelwitte van die SAPD kan belyn. Die doel is ook dat inligting wat van gevestigde AfriForum-gemeenskapsveiligheidstrukture verkry word en wat die SAPD kan help om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, met mekaar gedeel word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê dié ooreenkoms en vennootskap is ʼn geleentheid om die land se misdaad op ʼn wetlike en respekvolle wyse aan te pak. “Misdaad is ons land se nasionale vyand. Dié ooreenkoms skep hoop dat wetsgehoorsame landburgers veilig sal kan slaap en vry in hul strate kan loop.”

Soortgelyke plasings