| |

SAPD ingelig oor hul pligte gedurende grondgrype

AfriForum het vandag ’n projek van stapel gestuur om soveel polisiestasies as moontlik in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga te besoek en gidse te oorhandig wat die prosedure vir die polisie se hantering van grondgrype duidelik uiteensit.

Grondgrype het sedert die begin van 2019 beduidend in die noordstreek toegeneem, met ongeveer 45 gevalle in Gauteng, vyf in Limpopo en nege in Mpumalanga.

Dit blyk dat die SAPD gereeld versuim om hul grondwetlike plig en verantwoordelikhede na te kom – veral wat grondgrype betref. Dít het tot gevolg dat eienaars van eiendom waarop grondgrype plaasvind hul hand diep in die sak moet steek om die hof te nader om dié grondgrype te keer.

Ondanks ’n direktief en nasionale instruksie oor die hantering van grondgrype wat die SAPD aan alle polisiestasies uitgereik het, gehoorsaam sommige polisiestasies steeds nie dié direktief en instruksie nie. AfriForum moet gereeld ingryp en druk tot op nasionale vlak toepas om die SAPD tot optrede te dwing.

“AfriForum sal voortdurend as burgerlike waghond optree en druk op die owerhede toepas om te verseker dat hulle hul grondwetlike pligte nakom. Ons sal streng teen polisiestasies optree wat nie hul pligte nakom nie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

“AfriForum het reeds met regsaksie teen polisiestasies begin wat weens hul versuim om betyds en korrek op te tree, veroorsaak het dat onskuldige eienaars groot finansiële verliese moes ly. Grondeienaars moes reusebedrae bymekaarskraap om die hof te nader en van privaat sekuriteitsmaatskappye gebruik maak om hul eiendom van grondgrypers te red,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings