|

SAPD se #Back2Basics-strategie beklemtoon noodsaaklikheid van gemeenskapsveiligheid-strukture

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het vandag tydens die bekendstelling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se #Back2Basics-strategie gesê die vennootskap tussen die polisie en gemeenskapsveiligheid-strukture is van kritieke belang om die stryd teen misdaad in Suid-Afrika aan te pak.

Volgens Phahlane het dié strategie, wat vandag amptelik in Pretoria bekendgestel is, ten doel om polisie sigbaarheid te verbeter, om die effektiewe gebruik van hulpbronne te bevorder, asook om proaktiewe polisiëring te verseker.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, kan dié strategie moontlik Suid-Afrikaners se vertroue in die polisie verbeter.

Hy sê voorts dat AfriForum beplan om sy eie veiligheidstrukture in 2017 verder uit te brei. “Hoe meer Suid-Afrikaners by buurtwagte en ander inisiatiewe vir gemeenskapspolisiëring betrokke raak, hoe vinniger kan ons misdaad oorwin.”

Die burgerregte-organisasie het reeds in Mei vanjaar ʼn geskiedkundige ooreenkoms met die SAPD gesluit om plaasmoorde te prioritiseer. Tydens dié aankondiging het Phahlane verduidelik hoe hul #Back2Basics-strategie veral ʼn rol kan speel in die stryd teen plaasmoorde.

Cameron het gesê dat Phahlane die noodsaaklikheid van grondvlakstrukture en prosedures raaksien, omdat hy ’n beroepspolisieman met ’n agtergrond in forensiese ondersoeke is.

“Ons is positief dat hy in samewerking met ander rolspelers soos AfriForum ’n verandering in die hantering van veiligheid kan teweegbring.”

Soortgelyke plasings