SAPD stuit grondgrype in Witrivier met AfriForum se hulp


Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het in samewerking met die AfriForum-buurtwag in Witrivier ’n beplande grondgrypveldtog gestuit deur betogende EFF-ondersteuners te verwyder van onontwikkelde munisipale grond by Hillside net buite Witrivier in Mpumalanga.
Op 7 April 2017 was daar reeds voor 10:00 al ongeveer 40 voertuie en heelwat EFF-ondersteuners gereed met grawe, kapmesse, pale en stokke om vir hulle ’n stuk grond af te merk. AfriForum-buurtwaglede van Witrivier het by die twee T-aansluitings gestaan wat na die spesifieke area lei om motoriste te waarsku om alternatiewe roetes te gebruik. Dawie Ruthven, ’n lid van die AfriForum-buurtwag in Witrivier, het lugondersteuning uit ’n vastevlerkvliegtuig gebied en inligting aan die SAPD op die grond deurgegee.
Die SAPD onluste-eenheid is ontbied, waarna hulle die skare uiteengejaag en verwyder het.
AfriForum is in die proses om vas te stel of die organiseerder van die grondgrype wel ’n EFF-lid is al dan nie en sal indien wel ’n toepaslike klag van minagting van die hof teen hom indien in die lig van die interdik wat AfriForum en AfriSake teen die EFF verkry het. Hierdie interdik verbied Julius Malema en die EFF om onwettige grondgrype aan te hits.

“Ek wil die SAPD vir hul uitstekende diens bedank, asook al die betrokke buurtwagte en persone wat bystand gelewer het,” sê Dian Pretorius, voorsitter van AfriForum se buurtwag in Witrivier.

Soortgelyke plasings