Sasolburg-tak versoek optrede teen politieke partye wat reëls verontagsaam


AfriForum se Sasolburg-tak het op 7 November 2017 ’n klag by die kantoor van die munisipale bestuurder van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit ingedien wat versoek dat ondersoek ingestel word na politieke partye se verontagsaming van verskeie munisipale verordeninge tydens die bemarking van hul verkiesingsveldtogte. Politieke partye in Sasolburg werf tans stemme vir die munisipale tussenverkiesing wat op 29 November 2017 plaasvind.
Die AfriForum-tak het klagtes van die gemeenskap ontvang dat politieke plakkate (hoofsaaklik van die EFF) op verskeie plekke in Sasolburg opgeplak is en nie voldoen aan die bemarkingsverordeninge van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit nie. Politieke slagspreuke en boodskappe wat op munisipale eiendom soos substasies geverf is, en neerkom op vandalisme, moet ook ondersoek word.
Die Sasolburg-tak het gevolglik ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig wat ’n lys van al die verordeninge wat verontagsaam is, bevat. Dít sluit in die aanbring van plakkate teen brûe en ander sensitiewe areas, plakkate wat nie voldoen aan voorgeskrewe standaarde nie en die materiaal wat gebruik is om die plakkate vas te heg. Die munisipaliteit is ook versoek om hierdie plakkate te verwyder en dat partye soos die EFF, en nie die onskuldige belastingbetaler nie, aanspreeklik gehou word vir enige skade aan munisipale eiendom.

“’n Politieke party wat op plaaslike regeringsvlak wil regeer, kan nie bloot munisipale verordeninge verontagsaam nie. Die gedrag van partye soos die EFF skep ’n kultuur van wetteloosheid wat ook Sasolburg se beeld skade aandoen. Daarom vra ons dat die munisipaliteit dringend sal optree,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

Intussen moedig AfriForum die gemeenskap aan om deel te neem aan die tussenverkiesing om te verseker dat die regte persone ingestem word. Inwoners wat sukkel met vervoer op stemdag kan die tak skakel by 074 024 6663.

Soortgelyke plasings