|

SÊ NOU NEE VIR REGERING WAT JOU VUURWAPEN WIL VAT!

Deur Alet Rademeyer

Die regering kan hom vir ’n stortvloed regsoptrede en teenkanting voorberei ná wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die voorstelle het wye en woedende reaksie ontlok en word ook deur opposisiepartye en vuurwapenkenners as irrasioneel en verregaande bestempel. Uit reaksie op sosiale media is dit duidelik dat die regering hom vir massa-optrede kan voorberei. Mense is kwaad en spreek hul uit oor die omvang van misdaad en moorde in die land asook die chaos wat heers om vuurwapenlisensies te hernu. Foto’s van die totale wanorde en gebrekkige liasseerstelsel by die sentrale vuurwapenregister se kantore was ook onlangs op sosiale media in omloop.

Mense braak gal oor Bheki Cele, minister van polisie, en die polisie wat nie in staat is om misdadigers aan te keer en gewone mense te beskerm nie. Dit terwyl die polisie se begroting vir die BBP-beskermingseenheid met R2 miljard verhoog is. Daarbenewens is daar tans ’n agterstand van 250 000 in die verwerking van vuurwapenaansoeke.

Ingevolge voorgestelde wysigings sal geen persoon voortaan meer ’n vuurwapen kan koop om homself te beskerm nie. Selfverdediging sal nie meer as rede aangevoer kan word om ’n vuurwapen te besit nie.

Nie net gewone mense sal hierdeur geraak word nie, maar veral boere wat deurlopend onder gewelddadige aanvalle deurloop, sal nog meer kwesbaar en uitgelewer wees. Die voorstelle teiken ook jagters en sportskuts. Hul getal vuurwapens sal beperk word, terwyl versamelaars geen lisensies meer sal kry nie.

Cele voer in mediaberigte aan die wysigings is nodig omdat wettige wapens in onwettiges omskep word wanneer dit gesteel word en daar gevolglik te veel “onwettige” wapens in die land in omloop is.

AfriForum gaan die konsepwysigingswet met hand en tand beveg. “Die voorgestelde wysigings is irrasioneel, roekeloos en skokkend veral aangesien dié konsep die vermoë van burgers ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdedigingsdoeleindes te besit,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder van die gemeenskapveiligheidsafdeling.

Die burgerregtewaghond gaan ’n omvattende veldtog  begin om die drakoniese wysigings teen te staan. Kommentaar teen die voorstelle word voorberei en ’n regspan is reeds opdrag gegee om te kyk na hoe die wetgewing teengestaan kan word. Die publiek gaan ook gehelp word om deur middel van ’n petisie hul stem hierteen duidelik te laat hoor. Besoek www.myvuurwapen.co.za om beswaar te maak.

Volgens AfriForum moet burgers oor die vermoë beskik om hulself en hulle gesinne, binne die raamwerk van die wet, teen misdadigers te beskerm. “Hierdie konsep, in sy huidige formaat, sal tot gevolg hê dat burgers weerloos gelaat word in ’n land waar die SAPD reeds ruiterlik erken het dat hulle nie oor die vermoë beskik om die burgers van die land teen ’n misdaadvlaag te kan verskans nie,” meen Kamfer.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê met ’n moordsyfer wat vyf keer hoër as die wêreldgemiddelde (sewe uit 100 000 mense as wêreldgemiddeld en 36 uit 100 000 vir Suid-Afrika) móét burgers vuurwapens besit om hulself te beskerm.

Soortgelyke plasings