Secunda-buurtwag spoor gesteelde motorfiets op


Die AfriForum-buurtwag in Secunda het op 14 September 2017 ’n gesteelde motorfiets teruggevind.

“Die buurtwag het die gebied gepatrolleer en twee verdagte persone met ‘n motorfiets opgemerk. Buurtwaglede het die persone aanvanklik met hul voertuie aangekeer, waarna hulle te voet gevlug het en deur die buurtwag agterna gesit is. Die persone het egter die motorfiets agtergelaat toe hulle op die vlug geslaan het. Die buurtwag het later vasgestel dat die motorfiets wel gesteel is en kon dit aan die eienaar terugbesorg. Ongelukkig kon die verdagtes nie vasgetrek word nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

Buurtwaglede het ook tydens ‘n ander voorval op dieselfde aand op ‘n noodoproep gereageer en met hul aankoms by die betrokke perseel gevind dat die inwoner se honde vergiftig is. Paramedici se flinke optrede kon gelukkig die honde se lewens red.

“Flinke optrede deur die buurtwag en mediese personeel van ER 24 en Langamed wys net weer eens waartoe ’n gemeenskap wat saamstaan in staat is,” sê Nico Venter, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Secunda.

Gemeenskappe word aangemoedig om by hul plaaslike AfriForum-buurtwagte in te skakel.
Raak vandag nog by die beveiliging van jou gemeenskap betrokke: SMS “Veilig” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings