|

SEKSUELE OORTREDER VERVOLG NÁ VOLGEHOUE DRUK DEUR AFRIFORUM SE PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID

’n Verdagte wat beskuldig word van twee klagtes van seksuele aanranding en een klag van verkragting, het Woensdag uiteindelik in die plaaslike hof in Reitz verskyn ná volgehoue druk deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die privaatvervolgingseenheid is in Oktober 2019 deur ’n familielid van ’n vyfjarige meisie genader, wat na bewering deur die verdagte gemolesteer is. Die familielid was raadop nadat die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) besluit het om nie die verdagte te vervolg nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die saak bekyk en bevind dat die polisie nooit die saak behoorlik ondersoek het nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan die DOV daarop gewys dat verskeie getuies in die saak se weergawes nooit deur die polisie bekom is nie, waarop daar besluit is om die saak te heropen.

Alhoewel die verdagte steeds nie vervolg word vir die molestering van die kind nie, het die ondersoek bevind dat hy betrek kan word by verskeie ander soortgelyke oortredings, waarvan hy nou formeel aangekla is.

Die saak is uitgestel tot 15 Junie 2021. Weens die erns van die klagtes is die saak oorgeplaas na die streekhof in Bethlehem.

Soortgelyke plasings