| |

SELFDOODWAARSKUWINGSTEKENS

Deur Gerhard Nieuwoudt

’n Voorspoedige 2021 vir almal.

In hierdie blog verduidelik ek waarna jy moet oplet en hoe om in te gryp as jy vermoed dat iemand vir wie jy lief is, selfdood oorweeg

Om oor selfdood te praat, kan ’n vreesaanjaende onderwerp wees. Maar hoe meer mense bereid is om met ’n vriend of familielid oor selfdoodgedagtes te praat, hoe hoër is die waarskynlikheid dat hul gehelp kan word en hul die pad na genesing kan aanpak.

Baie mense neem aan dat as jy iemand vra of hul selfdoodgedagtes het, jy die idee in hul kop kan plaas. Dit is ’n mite, en geestesgesondheidswerkers moedig mense aan om belangrike vrae te vra en feite in te samel om iemand wat depressief is of hopeloos voel, te help. As iemand selfdood oorweeg, kan hul woorde en dade leidrade wees van hul gemoedstoestand en hul dus die gevaar loop om hulself te beseer.

Mense kan selfdood oorweeg as hul oorweldig voel deur die uitdagings van die lewe. Hul het nie hoop vir die toekoms nie, en hul sien selfdood as die enigste oplossing. Dit is ’n soort tonnelvisie waar ander opsies nutteloos lyk. ’n Gesinsgeskiedenis van selfdood, geestesgesondheidsprobleme of impulsiewe gedrag, dui ook aan dat dit die risiko van selfmoord verhoog.

Ander risikofaktore kan die volgende insluit:

  • Geskiedenis van dwelmmisbruik
  • Toegang tot vuurwapens
  • Moeilike lewensgebeurtenisse
  • Afsondering van ander
  • Geskiedenis van geestesongesteldheid
  • Geskiedenis van fisiese of seksuele mishandeling
  • Ly aan ’n terminale of chroniese siekte
  • Vorige selfmoordpogings

Hoe meer tekens jy sien, hoe groter is die risiko vir selfdood. Alhoewel praatjies oor die dood ’n duidelike teken is, is daar baie ander faktore wat op risiko kan dui. Daar is emosionele, verbale en gedragspunte waarna jy kan oplet.

Emosionele tekens kan die volgende insluit:

  • Depressie
  • Gebrek aan belangstelling in aktiwiteite wat die persoon voorheen atyd geniet het
  • Geïrriteerdheid
  • Woede
  • Angs
  • Skaam of gevoel van vernedering
  • Gemoedswisselings

Verbale tekens sluit die volgende in:

  • Praat oor selfdood
  • Sê dat hul lewe geen doel het nie
  • Voel soos ’n las
  • Sê hul voel vasgevang
  • Praat dat hul nie meer wil bestaan nie

Daar is twee soorte selfdooduitsprake of -gedagtes. ‘n Aktiewe stelling kan iets wees soos: “Ek gaan myself doodmaak.” ’n Passiewe stelling kan wees: “Ek wens ek kan gaan slaap en nie weer wakker word nie.” of “Ek sal nie omgee as ek deur ’n bus raakgery word nie.” Mense ignoreer dikwels passiewe stellings, maar dit moet beslis ernstig opgeneem word.

Gedragstekens kan die volgende insluit:

  • Afsondering van ander
  • Kommunikeer nie met vriende of familie nie
  • Weggee van besittings of die opstel van ’n testament
  • Bestuur roekeloos
  • Verhoogde aggressie
  • Verhoogde dwelm- en alkoholgebruik
  • Soek op die internet na inligting oor selfdood
  • Versamel materiaal (pille of ’n wapen)

Ouer volwassenes se risiko vir selfdood is hoër as enige ander ouderdomsgroep. Hul loop ook veral die risiko omdat hul gewoonlik nie advies soek vir depressie en ander geestesongesteldhede nie. As jy ’n ouer volwassene sien wat ophou om hulself te versorg, slegte eetgewoontes begin volg en/of hul besittings begin weggee, moet jy hul help om so gou as moontlik met ’n geestesgesondheidskundige te praat.

As jy dink dat iemand selfdoodgedagtes het, moedig hul aan om te praat oor hoe hul voel. Hul mag dalk ongemaklik voel om oor selfdoodgevoelens te praat. Hul weet dalk nie wat om te sê nie. Dit is heeltemal normaal en verstaanbaar.

Ons moet ons bes doen om te probeer verstaan waarom die betrokke persoon so voel, en wat dit veroorsaak het.

Ons moet leer om beter waar te neem. In die gevalle waar ek met ouers moes gaan praat het oor die afsterwe van hul kind, het hul vir my gesê dat hul die tekens raakgesien het maar nie ernstig opgeneem het nie. Of in baie gevalle was hul nie bewus van hoe selfdoodwaarskuwingstekens lyk nie.

Jy kan die verskil wees tussen lewe en dood, jou aandag, omgee en liefde kan ’n lewe red.

In my volgende skrywe sal ek meer fokus op tieners en selfdood.

Tot dan, wees veilig en kies lewe!

Soortgelyke plasings