|

SELFSTANDIGE GEMEENSKAPPE IS ANKERS IN DIE SEE VAN KORRUPSIE EN WANBESTUUR

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Vrywilligers is AfriForum se hande en voete op grondvlak en die sowat 150 aktiewe AfriForum-takke is nou gerat om pioniers van selfbestuur in 2021 te word.

Dié boodskap is bevestig tydens die burgerregte-organisasie wat vandeesmaand Streeksberade van Kennis in die Vrystaat, Gauteng en Knysna aangebied het.

Tydens die berade het AfriForum se uitvoerende bestuur en takbestuurslede bymekaargekom om die jongste verwikkelinge binne die organisasie te bespreek sowel as praktiese planne vir die toekoms te beraam.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is die berade ‘n baie belangrike geleentheid vir die byna 400 takbestuurslede om terugvoer vanaf grondvlak te deel en om hulle insette en menings oor die organisasie se toekomsplanne te gee. “Ons takke en vrywilligers is die hartklop van die organisasie. Dit is deur hulle wat op grondvlak verantwoordelikheid neem om self hulle gemeenskappe te ontwikkel, dat ons AfriForum se doelwit van selfstandigheid kan bereik. Die ywer waarmee ons taklede hulle eie tyd en vermoë inspan om ‘n verskil te maak in hierdie uitdagende tye, is ’n bron van hoop.”

Verskeie sprekers het tydens die berade AfriForum se visie vir die toekoms gedeel en temas wat bespreek is sluit onder meer plaaslikeregeringsake, veiligheid sowel as gemeenskapsidentiteit in.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum, is die enigste oplossing vir Afrikaners en ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe om hul gemeenskapskrag te mobiliseer en meer selfstandig te word. “Terselfdetyd is dit belangrik dat daar goeie vriendskaplike samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe gevestig word. Ons sê dus ‘ons sal self’ en wil nie van die staat afhanklik wees nie, maar ons gaan dit nie alleen doen nie.”

Plaaslike tendense soos die toenemende radikalisering en sentralisering van mag deur die ANC en gemeenskappe se ontnugtering met die Grondwet wat nie daarin slaag om groepsregte te beskerm nie, het volgens Uys daartoe gelei dat gemeenskappe begin aandring op meer seggenskap oor probleme wat hulle raak. “Hoewel die toekoms vol uitdagings is, is daar ook baie geleenthede. As ons op die Here vertrou, getrou bly aan ons waardes en roeping én gefokus werk, is ’n mooi toekoms vir ons en ons kinders moontlik.”

Jan Wessels, bedryfshoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gepraat oor die burgerregtewaghond se nuwe gemeenskapsgedrewe veiligheidsplan asook die vereistes vir suksesvolle buurtwagte.

Nic Arnold, uitvoerende voorsitter van Forum Sekuriteit, het op sy beurt verduidelik hoe dié nuutgestigte privaat sekuriteitsmaatskappy binne AfriForum se reeds gevestigde gemeenskapsveiligheidstrukture geposisioneer sal word.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het uitgewy oor hoe AfriForum deur sy aksies gemeenskappe help om hul kulturele rykdomme te ontsluit en hul erfenisse te beskerm.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gefokus op die organisasie se ankergemeenskapstrategie wat behels dat AfriForum-takke met plaaslike organisasies, skole en kerke in hul dorp op ’n neutrale platform bymekaarkom en gemeenskaplike aktiwiteite saam koördineer. “Ons gaan sterk selfstandige gemeenskappe bou en dit gee vir my hoop, want sulke gemeenskappe is soos ankers in die land se onstuimige see van korrupsie en wanbestuur. Ons het goeie planne en sterk mense wat roepingsgedrewe is. Dáárom sien ek uit na die toekoms.”

Soortgelyke plasings