Senekal-gemeenskap hou optog teen swak dienslewering


AfriForum en die gemeenskap van Senekal het vandag ’n memorandum aan Krog Mokuoane, die speaker van die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig oor uiters swak dienslewering in dié dorp. Dít het plaasgevind na afloop van ’n vreedsame protesoptog waartydens 400 inwoners na die kantore van die munisipaliteit gestap het.
Volgens Mike Odendaal, voorsitter van AfriForum se Senekal-tak, funksioneer Senekal, Matwabeng en Tambo se die rioolstelsel nie meer nie.

“Verskeie hoofafvoerpype is verstop en verskeie pompstasies wat afvalwater na rioolwerke moet afvoer, is buite werking. Dit veroorsaak dat onverwerkte riool en afval op verskeie plekke in die Sandspruitrivier invloei.”

Die gemeenskap eis dat burgemeester Nthateng Maoke, die raadslede van wyke 4, 5, 6 en 7, en senior amptenare van die munisipaliteit binne sewe dae vanaf ontvangs van die memorandum besoek in Senekal, Matwabeng en Tambo aflê. Inwoners van hierdie gemeenskappe sal hulle dan op ’n begeleide toer neem om die wanfunksionele rioolstelsel te ondersoek.
Die memorandum eis onder meer ook dat:

  • antwoorde binne 14 dae verskaf word oor waarom waterwerke in Senekal vir die afgelope drie jaar wanfunksioneel is;
  • die munisipaliteit dringend ondersoek instel en binne drie maande ’n plan van aksie oor die rioolstelsel aan die publiek bekend maak; en
  • die watervoorsiening- en suiweringstelsel herstel en opgradeer word en dat dít in die munisipaliteit se GOP geprioritiseer word.

Soortgelyke plasings