Senekal se vullisterrein nie op standaard


Die burgerregte-organisasie AfriForum het Senekal se vullisterrein besoek en ná ’n oudit daarvan bevind dat dit nie aan voorgeskrewe nasionale standaarde voldoen nie. Dié oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit vereistes oor toegangsbeheer in, asook brandregulasies en regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.

Die vullisterrein in Senekal het slegs 19% behaal. “Hierdie vullisterrein is gedeeltelik omhein, diere loop tussen die vullis rond op soek na kos en vullis word glad nie gesorteer nie. ’n Groot aantal herwinners werk op die vullisterrein, wat ook ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraal-streek.

Nel sê voorts dat die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit ondervind het onder meer die afwesigheid van afvalbestuurslisensies is en die feit dat min/geen werkers van die munisipaliteit op die terreine gevind kan word nie, maar slegs persone wat daar woon en na herwinningsmateriaal op soek is.

AfriForum het nagenoeg 120 vullisterreine geoudit in gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Dié uitslae gaan in ’n verslag opgeneem en aan die departement van omgewingsake oorhandig word. “Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat die provinsiale afvalbestuursbeamptes hul oudits aan ons beskikbaar gestel het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Na afloop van dié projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande.
AfriForum het aanmaningsbriewe aan munisipaliteite gestuur waar die vullisterreine nie op standaard is nie. Die burgerregte-organisasie het verder aksieplanne en teikendatums versoek wat in plek gestel moet word om te verseker dat vullisterreine op ’n wettige en omgewingsvriendelike wyse bestuur word.
Die ouditverslag sal ook vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite aan die Groen Skerpioene oorhandig word.
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings