|

Senior NVG-amptenaar moet afgedank word weens aantygings van rassisme ná druk van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid

Die bevinding van ’n dissiplinêre ondersoek na die gedrag van Pumeza Futshane, hoofaanklaer by die Johannesburgse Landdroshof, het bepaal dat sy uit die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) afgedank moet word nadat sy daaraan skuldig bevind is dat sy rassistiese en xenofobiese opmerkings gemaak het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid dring sedert 2019 daarop aan dat ’n ondersoek na dié, asook ander, bewerings teen Futshane gedoen moet word en sy is op grond van die aantygings teen haar in Maart 2021 geskors hangende dié ondersoek.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, meen dat AfriForum se voortdurende druk en monitering van die NVG se optrede bygedra het tot die implementering van ’n dissiplinêre ondersoek teen Futshane. “Die privaatvervolgingseenheid het respek vir hardwerkende aanklaers wat hul dagtaak met integriteit doen en het betrokke geraak by hierdie kwessie om te verseker dat sulke aanklaers hul werk werklik sonder vrees, guns of vooroordeel kan verrig.”

Futshane is getroud met Andrew Chauke, die Gautengse direkteur van openbare vervolging (DOV), wat beteken dat sy direk aan haar man gerapporteer het. Aanklaers wat in die Johannesburgse Landdroshof werksaam was, het gevoel dat Futshane sowel haar as haar man se magsposisies misbruik het om haar kollegas te intimideer en verkleineer.

’n Aanklaer wat onder Futshane gewerk het, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid meer as twee jaar gelede gekontak en beweer dat Futshane xenofobiese en rassistiese uitlatings op ’n WhatsApp-groep vir aanklaers gemaak het. Die aanklaer het die eenheid genader omdat daar glad nie teen Futshane opgetree is nie – ten spyte van die klagtes wat reeds in Oktober 2019 onder die aandag van die nasionale direkteur van openbare vervolging gebring is.

“Die bevinding van die dissiplinêre ondersoek is ’n groot oorwinning vir die aanklaer wat ons genader het en geweier het om onder druk (wat selfs verplasing ingesluit het) te swig. Ons kantoor is gestig met die doel om gelykheid voor die reg te hervestig en dit is wat hier gebeur het. Ons wil ook die NVG komplimenteer op die feit dat hulle die dissiplinêre verhoor deurgevoer het,” sluit adv. Nel af.

Soortgelyke plasings