|

Senzo Meyiwa: Beskuldigdes pleit onskuldig

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso die beskuldigdes wat aangekla word van die moord op Senzo Meyiwa het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria onskuldig gepleit op klagtes van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid was in die hof om die verrigtinge in terme van ’n waaksaamheidsopdrag namens Ntombifuthi Meyiwa, asook Zama en Nomalanga Meyiwa (onderskeidelik die ma en susters van Senzo Meyiwa) te monitor.

Adv. George Baloyi, die aanklaer in die saak, het kragtens artikel 150 van die Strafproseswet, 51 of 1977 aangedui watter getuienis die Staat beplan om te lei, asook watter getuies deur die loop van die saak geroep sal word. Die saak sal Maandag 25 April hervat wanneer die Staat se eerste getuie, naamlik die polisiefotograaf, geroep sal word. Hy sal na verwagting getuienis lei oor die foto-album en sketsplan van die huis in Vosloorus waar Senzo in Oktober 2014 vermoor is, asook dat fragmente van koeëls aangetref is in die kombuis waar Senzo geskiet is.

“Alhoewel dit stotterend begin het, het die verhoor darem uiteindelik ná agt jaar ’n aanvang geneem en ons is hoopvol dat dit na dese gladder sal verloop sodat die Meyiwa-familie, sowel as die gemeenskap uiteindelik geregtigheid kan kry vir hierdie sinnelose moord,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings