|

Ses nuwe AfriForum-takke reeds vanjaar gestig

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie het sedert die begin van die jaar reeds ses nuwe takke gestig.

Die takke is Zambesi, Alberton, Nigel, Heidelberg in Gauteng, en Upington in die Noord-Kaap.

Volgens Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is takke gefokus op die uitbreiding en instandhouding van AfriForum se plaaslike strukture.

AfriForum het sedert Mei 2010 meer as 100 takke landwyd gestig wat daarop gemik is om pro-aktief op te tree in gemeenskappe waar munisipaliteite versuim om hul plig na te kom.

Volgens Jansen van Rensburg bestaan die afdeling gemeenskapsake in AfriForum uit verskillende bene naamlik veiligheid, omgewingsake, plaaslike regering en die jeug. Om ’n AfriForum-tak te stig, moet minstens 100 lede aansluit waarvan 10 hulself beskikbaar moet stel om as bestuurslede te dien.

Die jeug is sedert verlede jaar deel van gemeenskapsake en volgens Jansen van Rensburg wil AfriForum daarop fokus om jong mense vanaf skool deel van die jeugstrukture te maak. “So kan die volhoubaarheid van takke ook versterk word en jongmense die geleentheid kry om netwerke te bou en oor goeie burgerskap te leer.”

Hy het voorts gesê gemeenskapsake se vooruitsig vir die jaar is om hul strukture te versterk. “Sodoende kan ons boewe van ons strate af en onbekwame amptenare uit ons beursies hou.”

Die Alberton-, Heidelberg-, Brakpan- en Nigel-takke is vanjaar onder leiding van Charles Castle, provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid gestig. Hy het verduidelik dat takke in die metropool vanjaar op misdaadvoorkoming gaan fokus weens ’n gebrek aan genoegsame en doeltreffende  sekuriteitstrukture.

Hoewel veiligheidstrukture soos die gemeenskappolisiëringsforums (GPF’s) help om misdaad te bekamp, word hul werk weens die politieke milieu waarbinne hulle moet funksioneer bemoeilik. Daarom speel AfriForum se buurtwagte ’n groot rol om gemeenskappe veilig te hou.

Charles se hoofdoel as koördineerder vir die jaar is om ’n sterker netwerk tussen al die takke in Gauteng-Suid te skep. “Ons wil hê dat takke een sterk ondersteuningsnetwerk moet vorm, nie net om meer funksioneel te wees nie, maar ook die gevoel van ’n groot gemeenskap te skep.”

Tarien Cooks, provinsiale koördineerder vir Gauteng-Noord sê dat sy vanjaar daarop gaan fokus om gemeenskappe tot groter selfstandigheid te lei. Die Zambesi-tak is onder haar leiding gestig.

“Ons wil nuwe takke goed georganiseerd  kry en moedig gemeenskappe aan om voorbereid te wees as dit kom by munisipaliteite wat hul plig versuim.”

Cooks meen dat geen landsburger ’n slagoffer moet wees van die regering nie en het beklemtoon dat AfriForum druk op munisipaliteite plaas om hul werk te doen. “Ons hoef nie  landuit te vlug om groener weivelde te soek nie. Ons moet eerder daarop fokus om ons eie gemeenskappe beter te maak.”

Die nuutgestigte takke het reeds aan die werk gespring.

Die Alberton-tak en IPS 4×4 het vandeesweek hande gevat en deel geword van die waterprojek wat deur Water Shortage South Africa van stapel gestuur is om die gemeenskap van Senekal by te staan en verligting te bring waar daar ernstige nood vir drinkwater is. Dié tak het ook vandeesmaand die Ekurhuleni-metroraad op terme geplaas om onwettige bedrywighede in die dorp te staak. Dít hou verband met ’n informele onderneming waar motors bedags in dié strate reggemaak word.

“Ons as AfriForum se Alberton-tak wil die publiek uitnooi om betrokke te raak en deel van hul gemeenskap te word,” het Willie van Wyk, takvoorsitter, gesê.

AfriForum se Brakpan-tak het onlangs met die Brakpan Radio Groep, LTS Transport, Kenzam Equipment en KPJ saamgespan om binne vyf dae 70 000 liter drinkwater aan Senekal se inwoners te verskaf.

Die Zambesi-tak het ook aan die werk gespring en verlede maand druk op die Tshwane-metroraad geplaas om straatligte in die Wonderboom-area te herstel wat al langer as ’n jaar buite werking is. Daar is ook watertoetse gedoen en volgens Werner Geere, AfriForum se nuwe Zambesi-takvoorsitter, kan die versekering gegee word dat die drinkwater in dié gebied veilig vir gebruik is.

“Dit was indrukwekkend om die mense se belangstelling in die tak te ervaar en te sien dat die gemeenskap nie skroom om ’n verskil te wil maak nie,” het Geere by die stigtingsvergadering gesê.

Die Upington-tak is onder leiding van Wico Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap gestig. Volgens Swanepoel is die gemeenskap ywerig om die dorp se aansien as toerisme-aantreklikheid te herstel en daarom sal op die verbetering van infrastruktuur gefokus word. Die tak gaan ook werk om die buurtwag te mobiliseer, veral vir omliggende plase naby die dorp.

Dorpe of individue wat daarin belangstel om ’n verskil in die gemeenskap te maak deur ’n tak te stig, kan AfriForum se webtuiste by https://afriforum.co.za/takke/begin-tak/ besoek vir meer inligting.

 

Soortgelyke plasings