| |

Sewe maklike wyses waarop jy en AfriForum Afrikaans tydens inperking kan versterk

Deur Alana Bailey, Hoof van Kultuursake by AfriForum

Die einde van Maart is gekenmerk deur ’n geskarrel om alles by die werk en huis voor te berei op die oomblik wanneer die deure finaal toeklap. Die laaste transaksies moes afgehandel, inkopies gedoen en planne beraam word om die tydperk fisies en finansieel menslik gesproke veilig te kan deurleef en te probeer verseker dat almal vir wie ons verantwoordelik is ook versorg sal bly. In hierdie omstandighede was die bevordering van Afrikaans waarskynlik die minste van ons bekommernisse.

Noudat ’n mens weke later al ’n soort daaglikse roetine gevestig het, kan ons weer aandag aan ons taal gee. AfriForum help graag met voorstelle en opsies in dié verband.

  1. Bly ingelig oor COVID-19

Die regulasies wat die regering aankondig, is hoofsaaklik in Engels beskikbaar. Mense kla oor gemeenskappe wat hulle nie hieraan steur nie, maar hoeveel mense verstaan al die verduidelikings oor die gevare wat die virus inhou en die rede waarom noodmaatreëls gevolg moet word? Daar is internasionaal bewys dat mense minder geneig is om hulle aan gesondheidsregulasies te steur as dit nie in hul moedertaal oorgedra word nie, selfs al verstaan hulle wel die ander taal waarin dit beskikbaar is. Wat ons nou kan doen, is om te sorg dat betroubare nuus in Afrikaans versprei word. AfriForum se omvattende inligting by www.afriforum.co.za/koronavirus-covid-19/ word gereeld bygewerk. Deel dit gerus wyd met ander Afrikaanssprekendes.

  1. Lees in Afrikaans

Die lekkerste boeke en tydskrifte is deesdae aanlyn beskikbaar. AfriForum se jongste tydskrif wag juis nou om gelees te word – besoek gerus www.afriforum.co.za/forum-tydskrif/. As jy lief is vir geskiedenis, gaan lees gerus AfriForum se strokiesverhaal oor generaal Koos de la Rey by www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/2020/01/De-La-Rey-Small.pdf.

  1. Doen besigheid

Dalk is jy een van die gelukkige mense wat in dié tyd jou besigheidsbedrywighede kan voortsit. Dalk nie – en moet jy nou al begin beplan hoe om te herstel as die inperking opgeskort word. Hoe dit ook al sy: As jy jou besigheid by AfriForum Netwerk by www.afriforumnetwerk.co.za gelys, word jy deel van ’n groot gemeenskap van besighede wat onderling inligting, dienste en produkte kan uitruil. Ons stel ook ’n lys saam van diensverskaffers wat in hierdie tyd beskikbaar is. AfriForum Netwerk reël selfs van tyd tot tyd opleidingsgeleenthede wat jy aanlyn kan benut! Ons stuur ’n weeklikse nuusbrief tydens inperking uit om te verseker dat besigheidseienaars op hoogte van die jongste nuus kan bly. Veral wanneer ons ná die inperking ons besigheidsbedrywighede moet hervat, gaan ons mekaar baie nodig hê. Deur dié gids kan ons mekaar help versterk – in ons eie taal, binne ons sterk netwerk!

  1. Hou die kinders besig

Dit is nie net volwassenes wat entrepreneurs kan wees nie  AfriForum se Besigheidsbytjies leer kinders van entrepreneurskap. Besigheidsbytjies se kompetisie vir junior entrepreneurs het aan die begin van April 2020 vir die tweede agtereenvolgende jaar afgeskop. Vanjaar het ons besluit om dié kompetisie verder uit te brei sodat hoërskole ook hieraan kan deelneem. Gaan loer gerus by die korf by www.besigheidsbytjies.co.za/die-korf/ in om meer inligting te kry en help die jongspan om aan die werk te spring!

  1. Bly op hoogte van onderwysnuus

AfriForum bied benewens Besigheidsbytjies ’n wye verskeidenheid onderwys- en leierskapsprojekte vir die jeug aan. Daar is selfs ook ’n maandelikse podsend met onderwysnuus oor aktuele onderwerpe en ’n nuusbrief met nóg meer inligting. Om te sien wat alles beskikbaar is, gaan loer na AfriForum se onderwysblad by www.afriforum.co.za/afdelings/kultuursake/onderwys-en-leierskapsprojekte/.

  1. Reis saam in Afrikaans

Vir Suid-Afrikaners in die buiteland – of mense met familie en vriende daar – is daar heelwat om te geniet, insluitend belangrike inligting op die webwerf en sosiale mediakanale van Wêreldwyd. Besoek www.wereldwyd.co.za en reis vandag nog saam met Wêreldwyd om die wêreld op Instagram, sonder om eers jou voordeur oop te maak of reiskoste te betaal …

  1. Verbeter jou Afrikaans

AfriForum se Faceboek-blad bied gereeld interessante brokkies oor Afrikaans aan, byvoorbeeld die woord van die week, wat deur die Woordeboek vir die Afrikaanse Taal, beter bekend as die WAT, aan ons voorsien word. Vind uit wat ’n gladdejan, katiera of pouk is. Sarie Slimhaas is een van AfriForum se mees geliefde jeugkaraktertjies. Sy deel nog meer taalwenke met ons. Daar is selfs ’n idioom van die maand. Besoek die sosiale mediakanale van AfriForum gereeld en skerp jou taalvernuf en woordeskat vinnig op.

Hierdie is maar net sewe wyses waarop jou taal nie saam met jou voordeur of jou tuinhekkie se slot hoef te verroes nie. Daar is nog veel meer wat AfriForum en van die ander instellings in die Solidariteit Beweging – byvoorbeeld Kraal Uitgewers, Dapper Media, Forum Films en Maroela Media – ons lede en ondersteuners in ons eie pragtige taal bederf. Snuffel vandag nog rond om al die opsies te verken en só kan ons, soos Langenhoven gesê het, die swaarkry met lekkerkry klaarkry.

Soortgelyke plasings