Shell onttrek aggressiewe hidrobreekplanne in Suid-Afrika


AfriForum en die Treasure Karoo Action Group (TKAG) beskou Shell Suid-Afrika se aanduiding dat dit beoog om hom aan skaliegasontginning in die sensitiewe Karoo te onttrek as ’n belangrike oorwinning vir almal wat hulle oor die omgewing ontferm. AfriForum en die TKAG het oor die afgelope sewe jaar ’n sleutelrol gespeel om gemeenskappe te mobiliseer, die parlement te versoek en hofaksies te loods om hidrobreking te verbied.

“Ons is daarvan oortuig dat AfriForum, die TKAG en ander drukgroepe se voortgesette aktivisme en deurlopende regsdruk op hidrobreekmaatskappye en die regering sal verseker dat maatskappye soos  Bundu Gas and Oil, Sunset Oil and Gas, Falcon Oil and Gas, en Rhino Oil and Gas binnekort Shell en Sasol se voorbeeld sal volg om hul hidrobreekplanne in waterskaars gebiede te laat vaar. AfriForum en die TKAG moedig dié maatskappye aan om eerder skoonenergieplanne volgens die VN se volhoubareontwikkelingsdoelwitte vir 2030 na te streef,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.
“Gegewe internasionale omgewings-, sosiale en ekonomiese druk wat sedert 2011 stadig maar seker toegeneem het, is ons glad nie verras dat Shell nou sy planne vir hidrobreking in die Karoo onttrek nie,” sê Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die TKAG.

Shell het aanvanklike aangedui dat die maatskappy ongeveer 485 biljoen kubieke voet (kv) gas in die Karoo sou kon onttrek – ’n syfer wat intussen na minder as 30 biljoen kv gedaal het. Hulle het ook volgehou dat bedrywighede tussen 300 000 en 700 000 werksgeleenthede sou skep. Dié syfer word gereeld deur die regering aangehaal. Die regering se eie studies dui egter op ’n moontlike 3 000 werksgeleenthede, waarvan slegs 15% tot 35% deur plaaslike Suid-Afrikaners gevul sou word.
Volgens Deal is dit danksy Suid-Afrikaners wat hard teen skaliegasontginning geveg het dat dié maatskappye nou jammer is dat hulle vir dié sinkende skip pal gestaan het. “Go well, go Shell. Gaan net weg,” sluit Deal af.
Gemeenskapslede kan dié alliansie steun deur ’n SMS met die woord “Fracking” na 45354 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings