|

SIKLOON ELOISE: BUURTWAGTE VERLEEN HULP TYDENS SWAAR REËN

AfriForum se Laeveld-buurtwagte het nie op 24 Januarie 2021 teruggestaan toe die tropiese sikloon Eloise groot hoeveelhede reën in die area laat uitsak het nie. Buurtwaglede het ingespring en noodplanne geïmplementeer om inwoners te beskerm en te verseker dat mense veilig kan reis as hulle op die pad was.

In Witrivier het lede verskeie bome wat omgewaai en paaie versper het, opgesny en verwyder. Die buurtwaglede het ook by verskeie ongelukke ondersteuning gebied en voertuie uitgesleep wat vasgeval het waar water oor die paaie gestroom het.

In Nelspruit het die AfriForum-buurtwaglede spoedig saam met die lede van Nelspruit Concerned Citizens (NCC) ingespring om bome wat paaie versper het, op te saag.

Die AfriForum-buurtwag in Dullstroom het dreineringslote oopgegrawe om die water wat op hoofroetes opgedam het, te dreineer.

“AfriForum se buurtwagte het noodplanne opgestel vir verskeie voorvalle en misdade. Tydens gebeurtenisse soos hierdie word dié planne in werking gestel om in samewerking met die nooddienste mense te help,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings