Skaliegasplanne deur hoëhofuitspraak gekelder – soos AfriForum en TKAG gewaarsku het

 
 

Skaars twee weke ná die departement van minerale hulpbronne vier omgewingsmagtigings aan Rhino Oil & Gas uitgereik het, het die Oos-Kaapse hoë hof die skaliegasregulasies wat deur dié departement opgestel is, tersyde gestel en Suid-Afrika dus sonder ’n regsraamwerk laat waarin hidrobreking bewerkstellig kan word.
Die Oos-Kaapse saak is deur verskeie boere en unies aanhangig gemaak en gaan ’n soortgelyke hofaansoek van AfriForum en die Treasure Karoo Action Group (die Alliansie) vooraf. Dié hofaansoek behoort in Februarie 2018 in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor te word.
Die goedgekeurde magtigings vir Rhino Oil & Gas, wat oor groot dele landbougrond in die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap strek, gaan heel waarskynlik ook deur dié uitspraak geraak word, asook planne van ander maatskappye soos Shell, Bundu en Falcon, wat gretig is om hidrobreking in die Karoo aan te pak.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, het gisteraand by ’n mediageleentheid gesê dat die uitspraak van regter Bloem glad nie verrassend is nie en bygevoeg: “Die Alliansie het sedert 2015 verskeie tekortkominge in die skaliegasregulasies uitgewys, maar sonder sukses. Die departement van minerale hulpbronne was onwillig om na ons of die breër gemeenskap te luister – miskien sal dié uitspraak hul aandag daarop vestig.
“Na ons mening is die regulasies in geheel ontoepaslik vir die interpretasie en beheer van verskeie aspekte van skaliegasontginning. Tans is daar geen aanduiding of die departement teen die Oos-Kaapse uitspraak gaan appelleer nie, en ons Februarie-verhoor bly op die hoëhofrol hangend verdere ontwikkelinge.”
Deal se woorde word beaam deur Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake. Hy voeg by: “Dit is bemoedigend om te sien dat die hoë hof ons siening oor die skaliegasregulasies beaam en dat die harde werk van verskeie rolspelers in die teenskaliegasdrukgroep oor jare heen nou vrugte afwerp. Die alliansie bly standvastig in sy siening dat hidrobreking nie ekonomies lewensvatbaar is nie en boonop gevaarlik is vir mensegesondheid en die omgewing. In die lig van die skokkende baanrekord van die Zuma-administrasie se bestuur van omgewingsaspekte in terme van mynbedrywighede, is dit die plig van die burgerlike samelewing om burgerregte teen korporatiewe gulsigheid en irrasionele regeringsbesluite te beskerm.”

Gemeenskapslede kan die Alliansie ondersteun deur die woord “Fracking” na 45354 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings