|

Skenking van R25 000 aan Voortrekkermonument oorhandig

AfriForum en verteenwoordigers van die Voortrekkermonument Draf & Stap Klub het vandag ’n skenking van R25 000 aan die Voortrekkermonument oorhandig. Dié bedrag is die opbrengs van die 2020 AfriForum Springbok Vasbyt-padwedloop wat deur die klub georganiseer en deur AfriForum geborg is.

Die wedloop het vanjaar op 11 Julie 2020 plaasgevind en is weens die COVID-19-inperkings virtueel aangebied. Sowat 265 atlete het wêreldwyd daaraan deelgeneem. Selfs in Skotland, Ierland, die VSA, Botswana en Namibië het mense saam gestap, gedraf en gehardloop. Daar is besluit dat die inkomste wat met die wedloop gegenereer is aan die Voortrekkermonument geskenk sal word. Weens die inperkingsvereistes was dié instelling verplig om maande lank gesluit te bly, wat ’n groot finansiële terugslag vir die monument beteken het. Dit het pas weer vir besoekers geopen.

Vanoggend se skenking wat R25 000 bedra is deur Joep Joubert namens die Voortrekkermonument Draf & Stap Klub en Alana Bailey namens AfriForum aan Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting, oorhandig. Joubert en Bailey het die hoop uitgespreek dat meer instellings en individue die Voortrekkermonument sal ondersteun en het ’n beroep op die publiek gedoen om die terrein te kom besoek.

By die geleentheid is hulde ook gebring aan Leon Bezuidenhout (1966–2020), stigter van die klub, wat Sondag oorlede is. Innige meegevoel word aan sy geliefdes betuig.

Soortgelyke plasings