|

Skoner omgewing en spruite volg op AfriForum se 10 dae van selfstandigheid

Die R511-pad in Gauteng is vandag as deel van die burgerregte-organisasie AfriForum se 10 dae van selfstandigheid deur die Hennopsrivier-landelik-tak skoongemaak nadat dit meer as twee jaar gelede gedoen is.

Izak Pieterse, verteenwoordiger van die tak, het gesê sowat R8 400 is daarvoor gebruik. “Dit was lank ’n seer oog in die landelike gebied en die gemeenskap het besluit om dit self skoon te maak.”

Slaggate is vandag in Machadodorp reggemaak. Die teer is deur lede van die gemeenskap geskenk wat ook self ingespring het om die gate te vul.

In Secunda en Trichardt het die gemeenskap meer as R10 000 gegee sodat die AfriForum-tak die begraafplase kon skoonmaak. Tzaneen se tak het ook hul begraafplaas skoongemaak.

In Kathu het die AfriForum-tak moue opgerol en die bebosde gebied in die dorpie skoongemaak en ontbos.

Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Noord-Kaap, het gesê dit het nie net ’n swak beeld van die dorp geskep nie, maar misdadigers het die gebied dikwels as wegkruipplek gebruik.

In Reitz in die Vrystaat het die AfriForum-tak meer as R20 000 gebruik om die besoedelde spruit wat deur die dorp vloei met eco-tabs behandel om die erge rioolstorting teen te werk. Die Petsana-spruit wat tussen Reitz en die Petsana-gemeenskap vloei, sluit aan by die Liebenbergsvlei, wat deel van die Hoogland-waterskema uitmaak. Die Liebenbergsvlei vloei in die Wilgerivier in wat weer in die Vaaldam vloei.

Buiten die rioolprobleem het die gemeenskap ook die rommel wat in die spruit gestort word, uitgehaal.

In Elliot in die Oos-Kaap kan inwoners ook weer asemhaal nadat ’n rioolpompstasie wat lank buitewerking was en rou riool gestort het, vandag herstel is.

In Mooinooi in Noordwes het inwoners ook weer toegang tot beter strate nadat dié tak meer as 20 slaggate gevul het met geld wat die gemeenskap bewillig het.

Môre is die derde dag van die veldtog van 10 dae van selfstandigheid.

 

Soortgelyke plasings