|

Skoonmaakaksie op Margate se strand skep natuurbewustheid onder die jeug

Die jeugvleuel van AfriForum se Margate-tak het in samewerking met Jeug in Aksie en Margate Ratepayers’ and Residents’ Association weer eens hul moue opgerol en op 14 September 2019 ’n skoonmaakaksie op Margate se hoofstrand aangepak.

Dié skoonmaakaksie is daarop gemik om natuurbewustheid onder die jeug te skep, asook ’n skoner, meer aangename omgewing aan Margate se strandgangers te bied. Altesaam 28 jeuglede het ten minste tien vullissakke se rommel opgetel.

Die tak se jeugvleuel het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul misnoeë met geweld teen vroue en kinders te toon deur ’n vreedsame betoging op die strand te hou.

Na afloop van die aksie het Senzi’s Grill & Butchery Shop die jeug met ’n ligte ontbyt bederf.

“Ek is baie trots op ons jeug se toewyding en bereidwilligheid om Margate ’n skoner plek te maak. Die Margate-gemeenskap se ondersteuning is uitstekend en ons vertrou dat dié ingesteldheid net meer momentum sal kry,” sê Barry Smit, voorsitter van die jeugportefeulje van AfriForum se Margate-tak.

Die Margate-tak se jeugvleuel beplan soortgelyke skoonmaakaksies op ander strande aan die Suidkus.

Soortgelyke plasings