Skreiende aantal mediese eise wys meriete en verantwoordbaarheid ontbreek in openbare gesondheidsektor – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag kommer uitgespreek oor die reuse-aantal mediese regseise teen provinsiale gesondheidsdepartemente. Rapport het gister berig dat Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal, bevind het dat hierdie eise in sewe van die land se provinsies meer beloop as die onderskeie departemente se bedryfsbegroting vir 2018/2019 en dus groot gevare vir dienslewering inhou.

Dr. Eugene Brink, AfriForum se gesondheidswoordvoerder, sê hierdie feite is uiters kommerwekkend. “Daar is nie hiervoor begroot nie en geslaagde eise sal dus uit geld moet kom wat vir dienste bestem is. Dit is egter nie eers net die hoeveelheid nalatigheidseise wat kommer wek nie, maar ook reusebedrae van onreëlmatige besteding. AfriForum het juis onlangs strafregtelike klagtes in al die provinsies oor hierdie besteding van meer as R10 miljard ingedien.
“Dit dui daarop dat die openbare gesondheidstelsel aan ’n totale gebrek aan verantwoordbaarheid ly. Steeds weier die regering om meriete-aanstellings te doen en die werklike sondaars vas te vat, asook om meer medici op te lei en die privaat sektor se hulp te betrek om die druk te verlig,” sê Brink.
Volgens hom is dit nóg ’n klinkklare teken dat nasionale gesondheidsversekering (NGV) tot mislukking gedoem is. “Die regering wil hulle hele NGV-plan deur die provinsiale gesondheidsdepartemente uitrol. Hierdie toedrag van sake wys dat dit eenvoudig nie moontlik is nie omdat die NGV-stelsel net ’n veel duurder en ewe wanfunksionele een as die huidige openbare gesondheidsektor gaan wees.”

Soortgelyke plasings