|

Slaggate in Lichtenburg? Nie ná AfriForum-tak byna 200 opvul nie

Die menige slaggate in Lichtenburg het geen kans gestaan teen die vasberadenheid van dié dorp se AfriForum-tak om die paaie reg te ruk nie. Die burgerregteorganisasie het weer in Junie die vervalle paaie van Lichtenburg getakel en altesaam 186 slaggate opgevul en herstel. Dit het sowat 15 ton teer geverg, wat deur plaaslike ondernemings en skole geskenk is, om die paaie te herstel.

Die tak het in Breëstraat 62 slaggate opgevul deur 100 sakke teer te gebruik wat deur die Lichtenburg-teerprojek geskenk is. In Derdestraat is 76 slaggate met 10 ton warm teer en ’n drom ss60 bitumen herstel. Dié benodighede is deur Laerskool Burgersdorp geskenk. In Kortstraat het die tak altesaam 48 slaggate opgevul deur gebruik te maak van 100 sakke teer wat deur Laerskool Lichtenburg geskenk is.

Die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit het boonop 22 sakke sement aan die Lichtenburg-tak geskenk, wat gebruik is om enorme slaggate saam met gruis op te vul. Noordwes Koöperasie (NWK) het ook die nodige toerusting beskikbaar gestel sodat AfriForum se teerspan die paaie kon herstel, terwyl Gideon du Preez van Lichcrete die vrag warm teer aangery het.

“In Juliemaand herstel AfriForum landwyd soveel moontlik slaggate. Danksy die betrokkenheid van gemeenskappe en die gereelde skenkings van teer en toerusting is hierdie nasionale projek jaarliks ’n sukses,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Plaaslike ondernemings en gemeenskapslede word aangemoedig om by die Lichtenburg-tak se slaggatprojek betrokke te raak en spesifieke strate vir herstelwerk te nomineer. Kontak Pine Pienaar by 082 371 5312 of Jan Buscop by 082 200 8075 om meer oor hierdie projek te wete te kom of om by toekomstige inisiatiewe betrokke te raak.

Soortgelyke plasings