|

SLAGGATUITDAGING ’N GROOT SUKSES

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum se takke is in Mei uitgedaag om soveel as moontlik slaggate in hul dorp te vul met prysgeld van R30 000 wat op die spel was. Die takke het behoorlik gewoeker met bykans 230 ton teer wat vir die vul van slaggate aangewend is. Anders gestel is meer as R550 000 vir dié herstelwerk aangewend.

20 takke van dwarsoor die land het aan die uitdaging deelgeneem. In groter dorpe het ander instansies ingekoop by die uitdaging en ook betrokke geraak. Hulle het byvoorbeeld teer geskenk of met die herstelwerk gehelp. Van die groot takke het Lichtenburg gewen. Hierdie tak het meer as 44 ton teer gebruik om slaggate te vul en het R20 000 gewen. Vereeniging was kort op hul hakke en het 42 ton teer gebruik om slaggate te herstel. Sasolburg het 30 ton teer gebruik.

Stefan Niemand, AfriForum-takvoorsitter op Lichtenburg, sê slaggate is een van vele uitdagings op dié dorp. “Ons het baie slaggate op Lichtenburg en ons het dié wat die ergste is, geïdentifiseer om te herstel,” vertel hy. “Baie plaaslike ondernemings het met skenkings gehelp en die munisipaliteit het ons met hul masjinerie bygestaan. Ons het ook die geleentheid gebruik om werk vir plaaslike inwoners te skep wat by die herstelwerk betrokke geraak het. Ons as tak is dankbaar vir al die hulp wat ons ontvang het en is trots op wat ons vermag het.”

Die Lichtenburg-tak beplan om die prysgeld wat hulle gewen het aan te wend om nog slaggate te herstel. “Daar is nog baie slaggate wat ons wil herstel, maar ons wil nog baie ander projekte ook aanpak” sê Niemand. “Dis belangrik om die publiek te wys ons kan ’n verskil maak en só hul ondersteuning kry.”

Machadodorp het die uitdaging vir klein takke gewen. Hulle het vier ton teer gebruik om slaggate te vul en het met die R10 000 prysgeld weggestap. Zeerust en Ottosdal was onderskeidelik tweede en derde met 2,975 ton en 2,5 ton teer.

Henrico Duvenhage, takvoorsitter op Machadadorp, sê slaggate is ’n ernstige probleem op die dorp. “Daar is strate in die dorp wat baie sleg lyk en basies onredbaar geword het,” sê hy. “Taklede en vrywilligers het gehelp om slaggate in Wes-, Watt- en Stasiestraat te herstel met teer wat ons self aangekoop het. Ons is baie positief oor die oorwinning en ons beoog om die prysgeld hoofsaaklik aan te wend om teer vir verdere slaggatherstelwerk aan te koop. Voorts wil ons van die gloeilampe in straatligte wat nie werk nie vervang.”

“Die takke het hulle baie goed van hul taak gekwyt,” sê Corné Cronje, Bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum. “Dis ongelooflik positief om te sien hoeveel skenkings uit die gemeenskap ontvang is om te help om slaggate te vul. Dit wys hoe gemeenskappe en ondernemings kan saamwerk. Ons wil projekte so volhoubaar as moontlik hou en ons vra die gemeenskap om by die slaggatprojek of ander soortgelyke projekte betrokke te raak. Dit help definitief ’n onderneming om voete deur die deur te kry as die straat voor die onderneming nie vol slaggate is nie.”

Alhoewel die slaggatuitdaging amptelik iets van die verlede is, is ’n klomp takke steeds op gereelde basis besig om slaggate op hul dorpe te vul. Kontak gerus jou plaaslike AfriForum-tak as jy ’n skenking wil maak of op een of ander wyse wil handjie bysit.

Soortgelyke plasings