|

Sluiting van vullisterreine in Emakhazeni-munisipaliteit sal nadelig wees vir omgewing

AfriForum se takke, in Dullstroom, Machadodorp en Waterval Boven,  het ’n petisie opgestel om die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit se beplande sluiting van die vullisterreine in hierdie dorpe te keer. Die sluiting sal negatiewe gevolge vir die omgewing en plaaslike gemeenskappe inhou en sal lei tot ’n toename in onwettige stortings.

Inwoners van hierdie dorpe sal nou meer as 50 km ver moet reis na die enigste oorblywende vullisterrein in Belfast – dié vullisterrein sukkel reeds om die huidige volumes vullis te hanteer.

AfriForum waarsku dat die sluiting tot onwettige vullisstorting in die omgewing, naby riviere en selfs in die dorpe kan lei, wat ernstige gesondheidsrisiko’s en omgewingsbesoedeling sal meebring. Hierdie probleem bedreig ook die plaaslike ekonomie, veral toerisme, aangesien besoedeling die dorpe se beeld negatief sal beïnvloed.

AfriForum eis dat die Emakhazeni-munisipaliteit die besluit om die vullisterreine te sluit hersien en volhoubare afvalbestuuroplossings instel wat onwettige storting en verdere besoedeling sal voorkom. Voorts eis die organisasie ook dat die Belfast-vullisterrein opgradeer word en dat die munisipaliteit moet verseker dat alternatiewe fasiliteite beskikbaar is voordat die vullisterreine gesluit word.

Die organisasie het reeds op 5 September 2024 ‘n dringende brief aan die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit gestuur om hierdie kwessie aan te spreek, maar tot op hede is geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie. “Ons is  teleurgesteld oor hierdie gebrek aan kommunikasie en dring daarop aan dat die munisipaliteit die ernstige implikasies van hierdie besluit in ag neem. Ons sal nie toekyk hoe hierdie gemeenskappe vervuil terwyl die munisipaliteit nie hulle werk doen nie,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum doen ’n beroep op alle inwoners van die Emakhazeni-munisipaliteit om die petisie te ondersteun en saam te staan teen hierdie potensiële omgewings- en gemeenskapskrisis.

Teken die petisie vandag om te verseker dat ons gemeenskappe en omgewing beskerm word.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en sodoende te help om ’n daadwerklike verskil  te maak.

Soortgelyke plasings