|

Sol-Tech vier 10 jaar van gehalte-beroepsopleiding

Sol-Tech, die privaat beroepsopleidingskollege van Solidariteit, het vandag tien jaar van uitnemende, innoverende en gehalte vaardigheidsopleiding by sy kampus in Pretoria-Wes gevier.

Ondersteuners, donateurs en verteenwoordigers uit die vaardigheidsektor het dié mylpaal saam gevier.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê om in die moderne kennis-era te oorleef, is dit noodsaaklik dat mense met die nodige vaardighede toegerus moet word. “Sol-Tech is die beste tegniese kollege in die land en ons glo ons moet studente na die beste van ons vermoë oplei om te verseker dat hulle betekenisvolle werke kry.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gepraat oor Sol-Tech se klein begin tien jaar gelede en hoe personeel oor naweke en in skofte praktiese opleiding gedoen het omdat daar nie genoeg lokale was nie. “Ons uitgangspunt is om nooit ’n goeie krisis te mors nie. Ons het gaan kyk na wat ’n suksesresep kan wees en Sol-Tech daarop gebou.”

Hy het verwys na hoe duur tegniese opleiding is en het gesê die R50 miljoen wat nodig was om die kollege te begin, het gekom uit die Solidariteit Boufonds en Opleidingsfonds, waartoe lede onderskeidelik R10 en R5 bydra.

Buys het op die dringende noodsaaklikheid van gehalte vaardigheidsontwikkeling gewys en gesê die welstand van die land gaan afhang van die welstand en produktiwiteit van die werksmag.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het gesê die kollege is ’n klein rat in die groot Solidariteit Beweging-masjien. “Ons doen wat ons sê. Ons gaan nêrens heen nie en neem verantwoordelikheid om ons toekoms te skep. Die probleme in die land raak ons almal. As die staat val, val dit op ons.”

Hy het gesê hoewel ambagsopleiding in die land in ’n krisis is, gebeur daar ook nog goeie goed soos by Sol-Tech. Dié kollege het in 2007 met 64 studente en 3 personeellede begin sonder enige toerusting of leermateriaal. Geskrewe notas en twee kantore by Solidariteit is in die begin gebruik en personeellede het masjiene waarop studente prakties kon oefen selfs op skrootwerwe gekry.

Vandag is daar deurlopend sowat 1 500 studente in opleiding of met prakties besig. Van die mees moderne toerusting word gebruik wat studente wat hier afstudeer ’n voorsprong gee in die bedryf waarin hulle werk.

Volgens Van Deventer gebruik die kollege die Duitse model van opleiding wat behels dat die student eers sy teoretiese opleiding voltooi voordat hy by ’n werkplek inskakel.

Die studente van Sol-Tech is buitengewoon gesog en niemand sukkel om ná hul studies werk te kry of selfs hul eie ondernemings te begin nie.

Vijayen Naidoo, hoof van die Quality Council for Trades and Occupations (QCTO), het Sol-Tech ook gelukgewens en gesê dié opleiding is op ’n model geskoei wat die res van die land kan gebruik.

Salim Adamgee, verbonde aan die Qualitas Opleidingsentrum waar studente onder meer vir hul rooiseël-toets gaan, het gesê Sol-Tech lei studente op wat ernstig oor hul beroep is en wanneer hulle afstudeer, is hulle uitstekend opgelei.

Sol-Tech lei vaklui soos dieselwerktuigkundiges, passers-en-draaiers, gereedskapmakers, meulmakers, sweisers en elektrisiëns op.

Môre (9 September) is ook ’n opedag by die kollege.

 

Soortgelyke plasings