|

Solidariteit Beweging het ’n aksieplan teen Koronavirus

 

Die Solidariteit Beweging en sy instellings het vandag omvattende planne bekendgemaak in die stryd teen die Koronavirus (COVID-19) wat wêreldwyd krisisafmetings begin aanneem het.

Wêreldwyd het meer as 200 000 mense die virus tot dusver opgedoen, terwyl meer as 8 000 gesterf het. In Suid-Afrika het 116 mense reeds positief getoets.  (18 Maart)

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê daar is baie onsekerheid oor die virus en die impak daarvan. Dit lei onder meer tot paniek onder mense en daarom is drastiese maatreëls nou nodig.

Die beweging se aksieplan sluit in:

  • Samewerking met die regering en die regering se rampbestuursentrum.
  • Solidariteit se Korona-krisissentrum is gereed om werknemers te ondersteun en werkverwante en ander vrae te beantwoord.
  • AfriForum se veiligheidbeheersentrum kan veiligheidskwessies koördineer en gereed is om moontlike onrus te hanteer. Die sentrum is ook gereed om te help met die opsporing van mense wat met ander in aanraking was wat positief vir die virus getoets het.
  • Solidariteit is gereed om met werkgewers in gesprek te tree om te verseker dat ekonomiese aktiwiteite in die land voortgaan.
  • Solidariteit Helpende Hand het 16 maatskaplike werkers beskikbaar om gemeenskappe te help om maatskaplike uitdagings die hoof te bied.
  • Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gaan tot einde Junie duisende video’s, werkkaarte en vraestelle gratis op sy wolkskool beskikbaar stel om skoliere in te staat stel om van die huis af te studeer.
  • Solidariteit se S-leer-platform gaan e-leerkursusse aanbied om kinders en volwassenes oor die virus in te lig.
  • Die FAK, Maroela Media, die Solidariteit Beroepsgilde vir die Kunste en Dapper Media gaan planne uitrol om kunstenaars te beskerm. Daar gaan ook gepoog word om hulle finansieel by te staan in die lig van kunsfeeste en vertonings wat afgestel is.
  • Die beweging het ’n nasionale krisiskomitee saamgestel wat daagliks vergader om aksieplanne volgens die nuutste ontwikkeling en inligting aan te pas.

Hermann sê die rol van die burgerlike samelewing is nou deurslaggewend. “Ons bestaansrede is om krisisse te hanteer en planne moet nou gemaak word om gemeenskappe in die tyd van nood by te staan.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging , sê die wêreld het oornag verander. COVID-19 kan ’n nuwe verwysingspunt in die wêreldgeskiedenis word. Die kan ongelooflike ekonomiese en staatkundige gevolge hê. “In teenstelling met globalisering begin nasionale state nou hul grense sluit.”

Buys meen die staat is gegewe sy verswakking en swak gesondheidsdienste nie in staat om die krisis alleen te pak nie. “Dit is nou tyd om verskille opsy te sit en saam met die staat en ander instellings te werk om die virus te beveg.”

Volgens Buys is dit van kritiese belang dat risikobeheer toegepas word sodat die land so vinnig moontlik na normaal kan terugkeer.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is belangrik dat mense nie nou paniekerig moet raak nie, maar met hoop deur die krisis moet gaan. “Ons sal al ons strukture gebruik om die virus doeltreffend te beveg.

“Die Solidariteit Beweging verteenwoordig meer as 500 000 gesinne en saam is ons sterker. Dis tyd om politieke en ideologiese verskille opsy te skuif sodat die gemeenskaplike vyand, COVID-19, teengestaan kan word.”

Kriel sê individue moenie nou selfsugtig optree en dink dat die virus hulle nie raak nie. “Almal moet in belang van die hele samelewing verantwoordelik optree en die nodige doen om te voorkom dat hulle die virus opdoen.”

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het mense aangemoedig om te kyk waar hulle betrokke kan raak om die kwesbares in die gemeenskap, soos gestremdes, bejaardes en kinders, te ondersteun.

Helpende Hand het reeds alternatiewe reëlings getref om die 8 000 kinders wat daagliks by skole gevoed word, steeds te voed terwyl skole nou gesluit is. “Ons kan nie nou terugtree nie. Ons moet eerder toetree om waar daar nood is ’n verskil te maak.”

Vir meer inligting besoek www.korona.afriforum.co.za en www.solidariteit.co.za

Soortgelyke plasings