|

Solidariteit Beweging kan danksy reuseskenking byna 2 000 gesinne help

 

Byna 2 000 behoeftige gesinne gaan ’n maand se kosvoorraad ontvang danksy ’n reuseskenking van R2 miljoen aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds.

Dié fonds, wat tans R6 miljoen sterk is, is verlede maand van stapel gestuur en word grootliks aangewend om Solidariteit Helpende Hand se voedingskemas, soos die Josef Silo’s waar nie-bederfbare kos afgelewer en versprei word, tydens die staat van inperking te ondersteun.

Dié skenking is moontlik gemaak deur die Douw Steyn Familietrust, Steyn City Properties en Telesure Investment Holdings (TIH). Dit is gebruik om 2 000 kospakkies aan behoeftiges in dele van Gauteng en Noordwes te voorsien. Elke kospakkie kan ’n gesin van vier vir ’n maand lank voed.

Omdat die nood en behoefte aan kos so enorm onder gemeenskappe is, het Helpende Hand in samewerking met AfriForum en die familieboernetwerk, Saai, ’n Covid-19-taakspan saamgestel wat dien as ’n verspreidingsnetwerk om voedsel in te samel en regoor die land te versprei.

AfriForum is verantwoordelik om, in samewerking met Saai, verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s en ander instansies se afsetpunte te behartig sodat die items wat Solidariteit Helpende Hand verpak en voorberei so gou as moontlik by behoeftiges kan uitkom. Familieboere kan voedsel en ander skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s of ander afsetpunte aflaai.

Danksy die Solidariteit Beweging se ingryping kon daar sedert die staat van inperking nagenoeg 3 000 gesinne en 257 instansies, soos ouetehuise en kinderhuise, gehelp word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, bewys die ondersteuning wat die Krisisfonds ontvang dat die krag van ’n gemeenskap sterker as die mag van die staat is. “Aan die een kant sien ons nou die ondoeltreffendheid van die staat gedurende die krisistydperk, maar aan die ander kant sien ons ook die krag van georganiseerde gemeenskappe. Die verskillende instansies van die beweging, wat elkeen op hul eie terrein sterk is, wys dat daar ’n daadwerklike verskil op grondvlak gemaak kan word as kragte saamgesnoer word en gemeenskappe georganiseerd is.”

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê dat hoewel Helpende Hand nie almal kan help nie, is dit egter belangrik dat daar waar hulle wel hulp verleen, hulle nie net kos gee nie, maar ook hoop skep.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die burgerregte-organisasie se plaaslike takke is geweldig dankbaar om deel van dié inisiatief te wees. “Ons weet dat ons in die toekoms heel moontlik nog ’n groter tekort in die gesig gaan staar. AfriForum se plaaslike takke én ons gemeenskapsveiligheidstrukture staan gereed om deel van dié fantastiese verspreidingsnetwerk te wees.”

Die nege AfriForum-takke in Bloemfontein het onlangs R90 000 aan Helpende Hand geskenk en help ook sedert die stigting van die taakspan om kospakkies by behoeftige mense af te lewer. AfriForum se Oos-Moot-tak het ook al R33 500 tydens die staat van inperking ingesamel vir dié projek. Hul kon ook danksy Langplaas Boerdery twee ton groente skenk en help om 10 ton groente te verskuif wat Helpende Hand en Kilnerpark Sekuriteit onder markprys aangekoop het.

Voorts het die AfriForum-tak in Rustenburg in samewerking met Helpende Hand en die Vryburgers sowat 70 kospakkies, wat elk ook ’n gesin van vier vir ’n maand lank kan voed, aan behoeftige gesinne in Rustenburg geskenk.

Soortgelyke plasings