| |

Solidariteit Beweging waarsku teen gevolge van verdere inperking in huidige formaat

Die Solidariteit Beweging het gewaarsku dat ’n verlenging van die inperkingsperiode in die formaat soos wat dit tans daar uitsien, tot gevolg gaan hê dat die staat van inperking kan inplof. Dít volg nadat President Cyril Ramaphosa vanaand aangekondig het dat Suid-Afrika se staat van inperking tot einde April verleng gaan word. Die Beweging bestaan uit meer as 20 gemeenskapsorganisasies met 500 000 lede wat AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand insluit.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sal die verlenging die ekonomiese en maatskaplike gevolge van die COVID-19-pandemie vererger.

Radikale veranderings moet aangebring word om die staat van inperking volhoubaar te maak. Mense moet toegelaat word om gesond te werk. Juis omdat dit noodsaaklik is om die lang stryd teen COVID-19 volhoubaar te maak, is veranderings aan regulasies noodsaaklik.

Volgens Buys moet werkplekke ingrypend verander word om mense in staat te stel om gesond te werk.

“Alle gesonde werk is noodsaaklike werk. Indien die ekonomie nie gestimuleer word nie, gaan dit tot grootskaalse werkverlies en maatskaplike onstabiliteit lei.”

“Ons sal omvattende voorstelle vir ’n strategie vir gesonde werk aan president Ramaphosa maak. Dit is nodig dat daar ’n skuif gemaak word vanaf slegs noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk. Die keuse is nie tussen gesondheid en werk nie, maar vir gesonde werk vir soveel moontlik werknemers,” sê Buys.

Soortgelyke plasings