|

SOLIDARITEIT GAAN VOORT OM MINISTER OOR KUBANE IN HOF TE PAK

Deur Alet Rademeyer

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie kan haar maar vir ’n fel stryd rondom die omstrede Kubane-kwessie voorberei.

Terwyl sy die publiek probeer mislei het deur voor te gee dat Solidariteit die saak teruggetrek het én dat die Kubane nie as volwaardige ingenieurs gaan werk nie, sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond, die eerste oorwinning in die regstryd is gemaak met omvattende inligting oor die Kubane wat bekend gemaak is.

Die saak is nie teruggetrek nie. Die dringende aansoek is bloot na ʼn ooreenkoms tussen die partye van die rol verwyder. Die bekendmaking van inligting volg op ʼn dringende hofaansoek waarin Solidariteit ʼn interdikaansoek gebring het hangende die bekendmaking van inligting.

Solidariteit takel die minister in die hof oor haar besluit om 24 Kubaanse ingenieurs vir waterinfrastruktuurprojekte aan te stel, terwyl daar talle plaaslike ingenieurs is wat ook die werk kan doen, maar nie oorweeg is nie.

Die inligting wat Sisulu en haar departement gedwing is om bekend te maak, is skokkend en skreiend. Daaruit blyk dit dat die Kubane wel werkskontrakte het en tot R300 000 per jaar méér as Suid-Afrikaanse ingenieurs betaal gaan word. Hulle kry ook omvattende voordele wat voertuie, akkommodasie en vakansies in Kuba insluit.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit. Foto: verskaf.

Solidariteit het bewys dat die Kubane nie net as mentors gaan werk soos wat Sisulu voorgegee het nie en ook dat hulle nie aan die registrasie en lisensiëring voldoen wat die Suid-Afrikaanse ingenieursraad vereis nie.

Volgens die inligting gaan belastingbetalers sowat R75 miljoen vir die projek opdok eerder as die R64 miljoen wat aanvanklik genoem is.

Volgens Hermann het die departement die publiek deurlopend oor die kwessie mislei. “Soortgelyke projekte word al die afgelope 19 jaar deur die departement en Kuba gedryf en intussen sien ons hoe ons waterinfrastruktuur verder agteruitgaan. Dit is ’n skande dat ons regering ons eie werkers so in die steek laat. Die departement is arrogant en beledigend teenoor ons eie werkersmag. Hulle sal eerder mislei en inligting probeer wegsteek as om Suid-Afrikaners te help. Ons moet hierdie irrasionele en onwettige besluit ten sterkste beveg.”

Sisulu het veral onder kritiek deurgeloop nadat Solidariteit ’n lys met 132 plaaslike ingenieurs verskaf het wat ook bekwaam is om die werk te kan doen.

Sisulu probeer die aanstelling van die Kubane regverdig op grond van bilaterale verhoudinge tussen Kuba en Suid-Afrika. In werklikheid sukkel Kuba self met haglike infrastruktuur en is daar dorpe wat slegs twee uur elke vyf dae lopende water het.

Morné Malan, hoof van kommunikasie by Solidariteit. Foto: verskaf.

Suid-Afrika het in die afgelope vyf jaar R1,6 miljard aan Kuba betaal vir dienste wat werklose Suid-Afrikaners kon gelewer het. Die grootste gedeelte van dié geld kom uit die verdedigingsbegroting. Sowat 150 Kubaanse motorwerktuigkundiges moet sedert 2015 militêre voertuie in stand hou en kundigheid verleen om werkwinkels te bestuur.

Altesame 187 Kubaanse dokters is ook na die land gebring om in landelike gebiede COVID-19 te help bekamp. Dit kos die land sowat R238 miljoen.

Solidariteit gaan binnekort voort met die hersieningsaansoek om die besluit van die minister oor die Kubaanse ingenieurs ongeldig te laat verklaar.

Soortgelyke plasings