|

Solidariteit KragDag; ʼn unieke ekspo wat selfbehoud moontlik maak

Duisende tuisverbruikers, sakeverbruikers en entrepreneurs wat alternatiewe elektrisiteitsoplossings bied, word by die vakbond Solidariteit se KragDag Ekspo verwag wat vanjaar vir die agtste keer op die Diamantvallei-landgoed oos van Pretoria aangebied word.

Met die leuse “Doen jou eie ding!” fokus KragDag op onderlinge en selfversorging in ʼn gemeenskap op ʼn manier wat wegdoen met afhanklikheid van staatsondersteunde netwerke.

Die ekspo is ʼn buitelug Afrikaanse geleentheid wat onder meer klem lê op volhoubaarheid, doeltreffende ontwerp vir sonenergie- en watergebruik, benutting van alternatiewe energie, veiligheid, ekonomiese uitdagings en voedselproduksie.

KragDag is in 2008 vir die eerste keer gehou nadat Hendrik en Alida Verwoerd, inwoners  van dié landgoed, alternatiewe elektrisiteitsoplossings gesoek het weens hoë stygings in Eskomtariewe en probleme met elektrisiteitsvoorsiening.

Met verskeie seminare, uitstallings en kort inligtingsessies bied KragDag ʼn platform waar verskaffers en verbruikers ontmoet en innoverende idees uitgeruil en gebore word.

Hoewel hernubare energie en verwante aangeleenthede ʼn sleutelrol speel, word daar ook voorsiening gemaak vir ander aspekte wat ʼn lewe van selfbehoud en -beskikking moontlik maak.

Boonop hou dié ekspo ook vermaak vir die hele gesin in, met ʼn karnaval-atmosfeer wat musiek, ʼn biertuin, perderitte en ʼn mark insluit.

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ook vanjaar deel wees van die geleentheid, met voorleggings op 16, 17 en 18 Junie rondom selfdoenprojekte en die gehalte van munisipale water.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum en een van die sprekers by die geleentheid, sê inisiatiewe soos KragDag is van groot belang vir die toekoms van Suid-Afrika aangesien nuwe idees en inisiatiewe rondom selfdoen by geleenthede soos dié geskep word.

“Ons leef in ʼn land waar die burgerlike samelewing self moet opstaan en hul toekoms in hul eie hande neem, ons kan nie meer op die regering vertrou nie.”

Toegangsfooie vir die ekspo is R60 per persoon. Vir meer inligting besoek die KragDag-webtuiste by www.kragdag.co.za.

 

Soortgelyke plasings